Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Steeds geen teken van Pta-troonkobra

$
0
0
'n Skermskoot uit die video van die kobra. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video van die kobra. Die video volg onderaan die berig.

Daar is nog geen teken van die kobra van nagenoeg 2,3 m wat inwoners van ʼn woonstelblok in Pretoria op hol het nadat dié gedierte Donderdag sy kop daar uitgesteek het nie.

Barry Greenshields (31), ʼn ervare slangvanger van Pretoria, het Saterdag aan Maroela Media gesê die slang is nog nie weer by die woonstelblok in Ilkleyweg in Lynnwood Glen, naby die Menlyn-winkelsentrum in die ooste van Pretoria, opgemerk nie.

“Ek het nog niks weer van inwoners in die omgewing gehoor nie en die slang is steeds soek. Die video van die slang maak egter wêreldwyd opslae en selfs internasionale mediahuise het by my navrae oor die voorval gedoen,” het Greenshields gesê.

Maroela Media het vroeër berig die video is geneem toe Greenshields Donderdag omstreeks 09:00 na die woonstelblok ontbied is nadat ʼn inwoner die slang in sy toiletbak opgemerk het.

“Die inwoner het aanvanklik gedink dit was ʼn pofadder, maar toe ek daar aankom en die deksel oopmaak toe sien ek dit is ʼn kobra. Ek het eers nie geweet watter soort kobra dit was nie en het vir ʼn sonbril gevra, sou dit ʼn spoegkobra wees, om die slang van nader te beskou. Dit is toe dat ek sien dit is ʼn wipneuskobra ook bekend as ʼn Egiptiese kobra.”

Greenshields het gesê dié slange kan tot 2,6 m lank word en hy skat die troonbesoeker was minstens 2,3 m.

“Ek het my grypstok gebruik en begin om die slang uit die toiletbak te trek. Ek het ʼn lang gedeelte van die slang uitgekry, maar die agterlyf moes aan iets vasgehak of vasgeklou het, want dit wou net nie verder uitkom nie. Ek wou ook nie te hard trek of die slang vasknyp nie want ek wou dit nie seermaak nie. Ek het in ʼn stadium die greep van grypstok laat vaar en die slang het dadelik teruggetrek en in die toiletpyp verdwyn en is skoonveld.”

Greenshields en ʼn kollega is later die middag terug na die drieverdieping woonstelblok waarin daar 20 eenhede is. “Hoewel dit ʼn drieverdieping gebou is, is daar slegs parkeerplekke op die grondvlak, so daar is net wooneenhede op die eerste en tweede vloer.”

Hy het gesê hy en ʼn kollega het tot laataand by al die eenhede gaan aanklop en in die mense se toilette gaan soek na enige spoor van die slang. Hulle het ook alle mangate en dreine op die grondvlak deursoek, maar daar was geen spoor van die slang nie.

“Daar is baie pype onder die gebou en die moontlikheid bestaan dat die slang in die dreineringstelsel verdwyn het. Ons het egter al die inwoners aangeraai om hul toiletdeksels toe te hou en mooi te kyk as hulle dit oopmaak.”

 

 


Twee polisiebeamptes in Kaapstad doodgeskiet

$
0
0
Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Twee polisiebeamptes is Saterdag in twee afsonderlike voorvalle in Kaapstad doodgeskiet.

Die Wes-Kaapse polisie het in ʼn verklaring gesê die eerste voorval het omstreeks 01:00 plaasgevind.

“ʼn Konstabel, verbonde aan die Mitchellsplein-polisiestasie, was nie aan diens nie toe hy noodlottig gewond is in ʼn beweerde kapingspoging in Bloekombos in Kraaifontein,” lui die verklaring.

“Die beampte was in die gebied om ʼn familie af te laai toe hy deur drie onbekende persone genader en geskiet is in ʼn mislukte poging om sy voertuig te steel.”

Die polisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaad-ondersoeke (DPCI) ondersoek die voorval.

Die tweede voorval het omstreeks 02:30 plaasgevind. ʼn Konstabel verbonde aan die Athlone-polisiestasie is in Owen Madikanestraat in Delft in sy skouer geskiet. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die omstandighede rondom dié voorval word steeds ondersoek.

Nóg ʼn vrou op plaasdorpie vermoor

$
0
0
Die onlangse slagoffers wat in Sundra vermoor is.

Die onlangse slagoffers wat in Sundra vermoor is.

Skaars ʼn week nadat Cathy van Coppenhagen in die hospitaal dood is nadat sy in die plaasdorpie Sundra in Mpumalanga op ʼn kleinhoewe aangeval is en in ʼn hondehok vir haar aanvallers moes skuil, is nóg ʼn vrou op dié dorp vermoor.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het Saterdag aan Maroela Media bevestig die 46-jarige vrou is omstreeks middernag buite ʼn plaaslike kuierplek aangeval.

“Inligting oor wat presies gebeur het, is nog skaars. Wat ons sover kon vasstel is dat die vrou buite die kuierplek gestap het toe sy deur ʼn rower aangeval is,” het Hlathi gesê.

Die man het glo probeer om haar handsak af te neem en ʼn stoeiery het ontstaan, waartydens sy vermoedelik met ʼn skerp voorwerp gesteek is voordat die man met haar handsak op die vlug geslaan het.

Volgens Hlathi was die vrou nog lewend toe die eerste polisiebeampte op die toneel opgedaag het en kon sy aan die beampte vertel wat gebeur het.

Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, was kort ná die polisiebeampte op die toneel en het dadelik begin om noodhulp op die vrou te pas totdat paramedici by hom oorgeneem het. “Hulle het alles in hul vermoë gedoen om haar lewe te probeer red, maar sy is op die toneel dood,” het hy aan Maroela Media gesê.

Dit is nog nie duidelik of die rower enige medepligtiges gehad het nie. Die verdagte het in die rigting van treinspore gevlug.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die oorledene se naam is aan Maroela Media bekend, maar word weerhou totdat al haar naasbestaandes van haar dood in kennis gestel is. Sy is glo die ma van vier kinders.

Maroela Media het vroeër berig twee gewapende mans het Van Coppenhagen en haar man op die aand van 11 November op hul kleinhoewe oorval en aangehou. Die aanvallers het die egpaar buite die huis ingewag toe hulle hul honde wou gaan uitlaat. Van Coppenhagen is in die tuin in die bolyf geskiet en daar gelaat, waarna die rowers haar man in die huis ingedwing en op waardevolle items aangedring het.

Van Coppenhagen het daarna ʼn paar meter ver in die modder gekruip om skuiling te soek. Haar man is aangerand voordat die verdagtes op die vlug geslaan het. Toe die buurtwag en die polisie omstreeks middernag na die kleinhoewe ontbied is, het hulle haar in ʼn ernstige toestand in die hondehok gevind waar sy geskuil het. Sy het op 16 November in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Rina Pringle (57), ʼn veiligheidsbeampte van Delmas in Mpumalanga, en haar kollega, Joseph Coombe, is in September tydens ʼn transitorooftog in die dorp met AK47-aanvalsgewere aangeval. Pringle is dood en Coombe het die aanval oorleef.

Dié voorval is voorafgegaan deur die aanval en moord op Johan van Rensburg (62) in Augustus. Met sy laaste asem het Van Rensburg (62) verbete teen ʼn groep aanvallers geveg om sy verloofde, Dina, op sy kleinhoewe, naby die plek waar die Van Coppenhagen-egpaar aangeval is, te beskerm.

Jong man sterf in botsing op snelweg

$
0
0
Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Jong man is Saterdagoggend dood toe sy voertuig in Benoni aan die Oos-Rand teen versperrings langs die snelweg gebots het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die botsing omstreeks 04:00 op die N12-Oos naby die Snake Road-afrit plaasgevind.

“Die bestuurder het vermoedelik beheer oor die motor verloor waarna dit teen die versperring gebots het. Die motor het daarna gerol en in die middel van die pad tot stilstand gekom,” het Meiring gesê.

Die man was reeds dood toe paramedici opgedaag het. Sy liggaam was in die motor se wrak vasgekeer.

Owerhede ondersoek die saak en die presiese oorsaak van die ongeluk.

Macy’s-webwerf knak onder Black Friday-druk

$
0
0
Die foutboodskap.

Die foutboodskap.

Werkers by talle winkels was nie al wat Vrydag moes bontstaan vir ʼn toeloop van klante wat op soek was na Black Friday-winskopies nie. Die gewilde aanlyninkopiewebwerf van die Amerikaanse afdelingswinkel Macy’s was ook só besig dat dié diens vir ʼn wyle onderbreek is.

NBCNews berig ʼn foutboodskap het op die stadige webwerf verskyn en talle verbruikers verhinder om inkopies aanlyn te doen. Die foutboodskap het gelees: “Ons ervaar ʼn tydelike inkopieverkeersknoop.”

Talle verbruikers het hulle tot Twitter gewend om hul misnoeë uit te spreek.

“Ons ervaar tans hoë volumes besoeke op ons webwerf wat dit baie stadig maak,” het ʼn woordvoerder aan die nuuskanaal gesê. “Die webwerf hanteer egter steeds ʼn groot aantal besoekers en verwerk bestellings. Ons werk aan die probleem om die vertraging so gou moontlik op te los.”

Die maatskappy het gesê die Black Friday-winskopies sal Saterdag tot middernag beskikbaar wees.

Bron:  NBCNews

[Video] Vinnige styging in vleispryse verwag

$
0
0
Die video volg onderaan die berig.

Die video volg onderaan die berig.

Die jongste verbruikersprysinflasiesyfers is volgens ekonome hoër as wat verwag is. Hoewel dit nie heeltemal ʼn verrassing is nie, voorspel hulle wel ʼn daling oor twee maande. Inflasie het gestyg tot 6,4% in Oktober nadat dit 6,1% in September was.

Ekonome verwag ʼn vinnige styging in vleispryse omdat boere na verwagting daarop gaan fokus om hul kuddes aan te vul wat weens die droogte van kant gemaak moes word.

Ondanks die hoër verbruikersinflasie het die reserwebank die rentekoers onveranderd op 7% gelaat.

Die graderingsmaatskappy Moody’s het ook intussen Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd gelaat te midde van kommer dat dit afwaarts aangepas sou word.

Dié insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

[This post contains video, click to play]

Man sterf in kettingbotsing

$
0
0
Die bakkie se wrak. Foto: ER24

Die bakkie se wrak. Foto: ER24

ʼn Man is Saterdag dood in ʼn kettingbotsing op die N12, sowat 10 km buite Potchefstroom in Noordwes.

Paramedici van ER24 en ander nooddienste is na die toneel ontbied waarby vier voertuie betrokke was. Die voertuie is twee vragmotors, ʼn bus en ʼn bakkie.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die man se liggaam is in die wrak van die bakkie aangetref en was daarin vasgekeer.

“Die man is met verskeie noodlottige wonde aangetref. Ongelukkig kon daar niks vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê. Die man se liggaam moes deur meganiese toerusting uit die motor se wrak gesny word.

Niemand anders het beserings opgedoen nie.

Die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word ondersoek.

Fietsryer kritiek ná tref-en-trap-voorval

$
0
0
Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Man, vermoedelik in sy laat 20’s, is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal geneem nadat hy Sondag in ʼn beweerde tref-en-trap-voorval buite Potchefstroom in Noordwes beseer is.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het op die Viljoenskroon-pad buite die dorp plaasgevind.

“ʼn Gemeenskapslid het nooddienste na die toneel ontbied. Met paramedici se aankoms is die fietsryer aan die kant van die pad, langs sy fiets, aangetref,” het Meiring gesê.

“Die man is ondersoek en vir verskeie kritieke beserings op die toneel behandel. Hy is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal in Potchefstroom geneem vir verdere behandeling.”

Meiring het gesê nóg die voertuig wat die fietsryer vermoedelik getref het nóg die bestuurder daarvan was op die toneel. Die fietsryer is deur ʼn verbyganger in die middel van die pad aangetref en na veiligheid verskuif voor nooddienste ontbied is.

Die polisie ondersoek die voorval.


[Foto’s] Dit brand in Tsitsikamma

$
0
0
Die brand by die Cattle Baron-restaurant. Foto: Verskaf

Die brand by die Cattle Baron-restaurant. Foto: Verskaf

Vakansiegangers en besoekers aan die Tsitsikamma Nasionale Park buite Jeffreysbaai in die Oos-Kaap word versoek om tot verdere kennisgewing genoeg van hul eie voedsel daarheen te neem nadat ʼn brand die plaaslike restaurant en winkel verwoes het.

William Mabasa, kommunikasiehoof van SANParke, het gesê voorlopige ondersoek dui daarop dat die brand Vrydagaand in die Cattle Baron-restaurant ontstaan het. Die brand is vinnig tot die gebou beperk en het nie na die res van die Stormsrivier-ruskamp versprei nie. ʼn Helikopter is ook na die park ontbied om te verseker dat die brand nie na die woud versprei nie.

Die brand is in bedwang gebring en geen beserings is aangemeld nie.

Mabasa het gesê die volgende stap is om die presiese oorsaak van die brand te bepaal en die omgang van die skade vas te stel. Versekeraars sal Sondag die park besoek om skade te bereken.

Vakansiegangers wat reeds vir die somervakansie plek daar bespreek het, hoef nie bang te wees dat hul vakansieplanne te veel geraak gaan word nie.

Bedrywighede by die Stormsrivier-ruskamp duur voort en besoekers kan voortgaan om daar te kampeer en die park te besoek. Besoekers word egter versoek om hul eie voedsel te bring tot verdere kennisgewing.

Die moontlikheid word ondersoek om tydelike geriewe vir die restaurant en winkel op te rig. Mense met navrae kan die park se ontvangs by 042 281 1607 bel.

Die brand by die Cattle Baron-restaurant. Foto: Verskaf Rook van die brand. Foto: SANParke 'n Helikopter is ontbied om te verseker dat die brand nie na die woud versprei nie. Foto: SANParke die Stormsrivier-ruskamp is nie geraak nie en bly oop vir besoekers. Foto: SANParke Die brand by die Cattle Baron-restaurant. Foto: SANParke

[Foto’s] Fratsongeluk in Pretoria eis jong man se lewe

$
0
0
Die brandweer poog om die man te bevry. Foto: Verskaf

Die brandweer poog om die man te bevry. Foto: Verskaf

ʼn Jong man is Saterdag in Pretoria tydens ʼn fratsongeluk dood.

Xander Loubser, woordvoerder en paramedikus van Best Care-ambulansdienste, het Sondag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 15:00 in Booysens in die weste van Pretoria plaasgevind.

“Na wat verneem word, het die man, in sy laat 20’s, by ʼn inwoner kom aanklop vir stukwerk,” het Loubser gesê.

Die inwoner het die man glo gehuur om hom te help om die stomp van ʼn afgesaagde boom uit die grond te verwyder. “Die oorledene het ʼn groot gat om die bodem van die boomstomp gegrawe en was in die gat toe die stomp onstabiel geraak en op hom geval het. Dit stomp het hom op sy bors teen die grond vasgepen.”

Die Tshwane-nooddienste en Best Care is na die toneel ontbied. Die brandweer moes van hoëdruklugsakke en ʼn kabel gebruik maak om die stomp van die man af te lig en hom te bevry.

Die man is deur paramedici van Best Care op die toneel dood verklaar weens ʼn noodlottige borskasbesering.

Die Hercules-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

. Die brandweer moes van hoëdruklugsakke en ʼn kabel gebruik maak om die stomp van die man af te lig en hom te bevry. Foto: Verskaf . Die brandweer moes van hoëdruklugsakke en ʼn kabel gebruik maak om die stomp van die man af te lig en hom te bevry. Foto: Verskaf

Plaasdorp-moord: Ma van drie sterf in boetie se arms

$
0
0
Ansie Steyn. Foto: Verskaf

Ansie Steyn. Foto: Verskaf

Ansie Steyn (46), die jongste slagoffer van ʼn vlaag moorde in die plaasdorpie Sundra in Mpumalanga in die afgelope tyd, het Saterdagoggend in haar broer se arms gesterf.

Mardia Steyn  (41), Steyn se skoonsuster, het Sondag aan Maroela Media gesê hul hegte familie is nog verslae oor die skoknuus van Ansie se wrede moord.

Maroela Media het Saterdag berig Steyn is omstreeks middernag buite ʼn plaaslike kuierplek in die dorpie aangeval.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê sy het buite ʼn kuierplek gestap toe sy deur ʼn rower aangeval en vermoor is. Die man het glo probeer om haar handsak af te neem en ʼn stoeiery het ontstaan, waartydens sy vermoedelik met ʼn skerp voorwerp gesteek is voordat die man met haar handsak op die vlug geslaan het. Dit is nog nie duidelik of die rower enige medepligtiges gehad het nie. Die verdagte het in die rigting van die treinspoor gevlug en is steeds soek.

Ansie Steyn. Foto: Facebook

Ansie Steyn. Foto: Facebook

Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, was kort ná die polisiebeampte op die toneel en het dadelik noodhulp op die vrou begin toepas totdat paramedici by hom oorgeneem het. “Hulle het alles in hul vermoë gedoen om haar lewe te probeer red, maar sy is op die toneel dood,” het hy aan Maroela Media gesê.

Mardia het Sondag aan Maroela Media gesê die familie weet nog nie wat presies tydens die voorval gebeur het nie.

“Ons moet môre [Maandag] haar liggaam gaan uitken en hoop om dan meer vas te stel as ons met die polisie gepraat het. Al wat ons weet, is dat sy nie alleen by die kuierplek was nie. Sy was saam met vriende uit voor sy aangeval is. Haar broer, Danie Steyn (41), was kort ná die aanval by haar en sy is in sy arms dood. Ek was gister by Danie en hy is baie getraumatiseerd. Haar kinders is ook nog verslae, haar oudste dogter [en ma van haar enigste kleinkind], Monique Cronjé, verwerk dit veral baie moeilik.”

ansie-steyn-sundra-moord-3

‘n Gesinsfoto wat in 2013 geneem is.

Steyn woon al die afgelope paar jaar lank op Eloff, die plaasdorpie aangrensend aan Sundra. Sy is ʼn enkellopende ma en woon saam met Monique, en dié se verloofde en hul eenjarige seuntjie, en twee seuns, Leon (19) en Stephan Steyn (14).

Sy was ʼn kredietkontroleerder vir Bidvest Car Rental en het weekliks Kempton Park toe gependel vir werk.

“Al is ons skoonfamilie, was sy vir my soos my regte suster. Sy was ʼn goeie mens wat uit haar pad uit sou gaan om mense te help, selfs al benadeel sy haarself. Sy het absoluut geleef vir haar kinders, hulle was haar alles,” het Mardia gesê.

“Sy het nooit dat iets haar onderkry nie, self al het sy deur moeilike tye gegaan. Sy het voluit gelewe en die lewe in die oë gekyk. Sy het ʼn mens altyd laat lag en beter voel met haar sprankelende persoonlikheid en lawwigheid. Sy was baie geliefd onder almal met wie sy in aanraking was.”

Steyn se ouers is albei oorlede. Buiten haar kinders laat sy haar broers Danie, Corne Steyn (43) en Dirk Steyn (36) agter.

Haar begrafnisreëlings sal getref word sodra die nadoodse ondersoek voltooi is.

Steyn se moord volg skaars ʼn week nadat Cathy van Coppenhagen, in haar laat 50’s, in die hospitaal dood is nadat sy en haar man op hul kleinhoewe in Sundra aangeval is. Sy moes in ʼn hondehok vir haar aanvallers skuil.

Vier mense wat die afgelope tyd in Sundra vermoor is. Hulle is Ansie Steyn (links bo), Cathy van Coppenhagen (regs bo), Johan van Rensburg (links onder) en Rina Pringle (regs onder).

Vier mense wat die afgelope tyd in Sundra vermoor is. Hulle is Ansie Steyn (links bo), Cathy van Coppenhagen (regs bo), Johan van Rensburg (links onder) en Rina Pringle (regs onder).

Maroela Media het vroeër berig twee gewapende mans het Van Coppenhagen en haar man op die aand van 11 November op hul kleinhoewe oorval en aangehou. Die aanvallers het die egpaar buite die huis ingewag toe hulle hul honde wou gaan uitlaat. Van Coppenhagen is in die tuin in die bolyf geskiet en daar gelaat, waarna die rowers haar man by die huis ingedwing en op waardevolle items aangedring het.

Van Coppenhagen het daarna ʼn paar meter ver in die modder gekruip om skuiling te soek. Haar man is aangerand voordat die verdagtes op die vlug geslaan het. Toe die buurtwag en die polisie omstreeks middernag na die kleinhoewe ontbied is, het hulle haar in ʼn ernstige toestand in die hondehok gevind waar sy geskuil het. Sy het op 16 November in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Rina Pringle (57), ʼn veiligheidsbeampte van Delmas in Mpumalanga, en haar kollega, Joseph Coombe, is in September tydens ʼn transitorooftog in die dorp met AK47-aanvalsgewere aangeval. Pringle is dood en Coombe het die aanval oorleef.

Dié voorval is voorafgegaan deur die aanval en moord op Johan van Rensburg (62) in Augustus. Met sy laaste asem het Van Rensburg (62) verbete teen ʼn groep aanvallers geveg om sy verloofde, Dina, op sy kleinhoewe, naby die plek waar die Van Coppenhagen-egpaar aangeval is, te beskerm.

 

Kleuter sterf ná kar rol

$
0
0
Die motor se wrak. Foto: Verskaf

Die motor se wrak. Foto: Verskaf

ʼn Kleuter is Sondag dood toe hy uit ʼn voertuig geslinger is tydens ʼn ongeluk in die Vrystaat.

Volgens Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het die ongeluk omstreeks 11:15 op die R73 buite Welkom plaasgevind.

“Die seuntjie was saam met ʼn man en ʼn vrou in die motor. Die presiese oorsaak van die ongeluk is onbekend, maar die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor waarna dit die pad verlaat en verskeie kere gerol het,” het Mathe aan Maroela Media gesê.

Paramedici van Netcare 911 en provinsiale nooddienste is na die toneel ontbied.

“Die seuntjie is uit die voertuig geslinger toe dit omgeslaan het. Hy was ongelukkig reeds dood en daar kon niks vir hom gedoen word om sy lewe te red nie.” Die kleuter is op die toneel dood verklaar.

Die man en vrou het ernstige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Pta-meisie se noodroep lei tot skietgeveg, twee boewe vas

$
0
0
'n Vuurwapen waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

‘n Vuurwapen waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

Twee verdagtes is in ʼn japtrap in hegtenis geneem nadat hulle toegeslaan het op ʼn woning in die ooste van Pretoria waar ʼn tienermeisie in daardie stadium alleen by die huis was.

Volgens kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, word die sukses van die spoedige inhegtenisnemings toegeskryf aan die goeie samewerking tussen die Brooklyn-polisiestasie, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en veiligheidsforum.

Weilbach het Sondag aan Maroela Media gesê die voorsitter van die Brooklyn-GPF, Paul Fouchee, het Saterdag omstreeks 14:00 ʼn oproep van ʼn angsbevange inwoner van Menlopark ontvang.

“Die inwoner het hulp benodig nadat sy ʼn noodoproep van haar tienerdogter, wat toe alleen by die huis was, ontvang het. Haar dogter het haar meegedeel dat daar indringers in hul erf is,” het Weilbach gesê.

Fouchee het dadelik die veiligheidsforum gebel wat uit verskeie plaaslike veiligheidsmaatskappye bestaan.

“ʼn Reaksiebeampte van CSI, Nico Mans (39), was eerste op die toneel en het op die verdagtes afgekom terwyl hulle die huis met ʼn televisiestel wou verlaat het. Een van die verdagtes het hom gesien en op hom begin skiet. Hy het teruggeskiet en die verdagte in die bobeen gewond.”

Albei verdagtes het op vlug geslaan. Die gewonde verdagte is terug in die huis en die ander een het oor ʼn grensmuur gespring.

Beamptes van die polisie se ander veiligheidsmaatskappye het intussen ook by die huis opgedaag en die verdagte wat in die bure se erf geskuil het, aangekeer. Die gewonde verdagte is binne die huis gevind waar hy in ʼn badkamer probeer wegkruip het.

Volgens Weilbach is Mans en die tienermeisie ongedeerd.

Die polisie het beslag gelê op ʼn ongelisensieerde vuurwapen, gereedskap om by huise in te breek, gesteelde eiendom en die voertuig wat die verdagtes gebruik het.

Huisinbraaktoerusting wat gevind is. Foto: Verskaf

Huisinbraaktoerusting wat gevind is. Foto: Verskaf

“Die buurman het Sondag ʼn tweede vuurwapen op sy huis se dak gekry. Die verdagte wat in sy erf was, het dit saam met handskoene op die dak gegooi toe hy probeer vlug het,” het Weilbach bygevoeg.

Daar is reeds vasgestel dat die voertuig wat die verdagte gebruik het ʼn paar maande gelede in Brooklyn as gesteel aangemeld is. Een van die verdagtes is ook gesoek in verband met ʼn moordsaak in Mamelodi.

Albei verdagtes is in hul 30’s en van Mamelodi. Hulle moet binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, huisbraak, die besit van ʼn gesteelde voertuig en eiendom, asook besit van huisbraaktoerusting en ongelisensieerde vuurwapens.

Brig. Kushie Nair, die Brooklyn-polisiestasie se bevelvoerder, het al die rolspelers geloof wat saamgewerk het om die verdagtes aan te keer. Sy het veral vir Mans vir sy braafheid uitgesonder. Sy is trots op die samewerking tussen die veiligheidsforum, GPF en polisie en het alle inwoners aangeraai om by die GPF betrokke te raak.

Man val na sy dood

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man in sy laat 20’s is dood nadat hy Sondag sowat 15 meter ver na sy dood geval het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het by ʼn maatskappy in die nywerheidsgebied van Meyerton in Gauteng plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms is die man op die vloer van ʼn groot gebou met ernstige hoofbeserings aangetref. Hy was deur sy kollegas omring. Hy is ondersoek en het geen tekens van lewe getoon nie. Ongelukkig kon daar niks vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

Volgens Meiring is dit nie bekend wat tot die man se valdood gelei het nie. “Owerhede is ontbied en die voorval word ondersoek,” het hy gesê.

Motorfietsryer beland in kaktusse om ongeluk te vermy

$
0
0
Argieffoto (Foto: AlexVan, Pixabay)

Argieffoto (Foto: AlexVan, Pixabay)

ʼn Motorfietsryer is Sondag in ʼn kritieke toestand na ʼn Gautengse hospitaal geneem nadat hy onder meer tussen kaktusse beland het om ʼn botsing met ʼn stilstaande voertuig te vermy.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het omstreeks 16:30 naby die aansluiting van Olga Kirsch- en Helgaardstraat in Vanderbijlpark plaasgevind.

“Volgens inligting van die toneel het die motorfietsryer vermoedelik vir ʼn stilstaande voertuig uitgeswaai. Sy motorfiets het teen ʼn muur langs die pad gebots, waarna die man tussen kaktusse beland het,” het sy gesê.

Die man is op die toneel gestabiliseer en weens sy kritieke toestand moes hy met ʼn helikopter van Netcare 911 na ʼn traumahospitaal in Johannesburg geneem word vir verdere behandeling.


Beloning aangebied vir inligting oor polisiemoorde

$
0
0
Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die name van die twee polisiebeamptes wat Saterdag in twee afsonderlike voorvalle in Kaapstad doodgeskiet is, is bekend gemaak.

Konst. Thanduxolo Ndiki (30), verbonde aan die Mitchells Plain-polisiestasie, was nie aan diens nie toe hy in ʼn beweerde kapingspoging in Bloekombos in Kraaifontein doodgeskiet is.

Die ander beampte is konst. Mabhuti Nqwaba (33), verbonde aan die Athlone-polisiestasie. Nqwaba is in Owen Madikanestraat in Delft in sy skouer geskiet. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die polisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaad-ondersoeke (DPCI) ondersoek die voorvalle.

ʼn Beloning van R100 000 is uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en vervolging van die skuldiges kan lei.

Polisieminister verkla oor kontrak van miljoene rande vir vriendin

$
0
0

Nathi Nhleko by 'n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko by ‘n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko, minister van polisie, se departement het volgens berigte meer as R30 miljoen betaal vir ʼn veldtog wat sy vriendin se nieregeringsorganisasie vir die departement behartig het.

Die DA het aangedui dat hy Nhleko by die parlement se etiekkomitee sal verkla. Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het gesê hulle sal die openbare beskermer ook versoek om die bewerings te ondersoek.

Sondagkoerante het berig Nhleko se vriendin, Nomcebo Mthembu, se maatskappy het die “We Are One Humanity”-veldtog teen xenofobie vir sy departement gereël. Daar is volgens berigte geen tenders vir die projek aangevra nie.

Volgens Mbhele is die DA lankal bewus van bewerings dat Nhleko sy posisie misbruik om Mthembu se maatskappy, Indoni, onbehoorlik te bevoordeel. Mbhele het gesê die DA het in Oktober ʼn parlementêre vraag aan Nhleko gerig om besonderhede te probeer kry oor die veldtog en finansiële transaksies tussen Nhleko se departement en Indoni. Volgens Mbhele het Nhleko opsetlik vaag geantwoord.

“In die afwesigheid van duidelike verantwoordbaarheid sal die verhouding tussen Nhleko se departement en Indoni steeds as verdag beskou word en sal dit geloofwaardigheid gee aan die voorstel dat die minister toelaat dat die slaapkamer sy raadsaal-besluite beïnvloed,” het Mbhele gesê.

Nuuskommentaar: Zuma en Kuba

$
0
0

Pres. Zuma tydens Vryheidsdagvieringe op 27 April 2016 in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma tydens Vryheidsdagvieringe op 27 April 2016 in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Probeer die Zuma-ondersteuners die ontslape Castro-euforie so opgeblaas hou dat die tweespalt oor pres. Jacob Zuma vir eers besweer word? Op die oog af lyk dit nie of so iets sou slaag nie, en dat daar vandag oor Zuma se toekoms beslis gaan word.

Kort op die nuus dat Fidel Castro, jare lange diktator van Kuba, dood is, volg die nuus dat min. Derek Hanekom tydens ’n vergadering van die ANC se NUK ’n mosie ingedien het dat pres. Jacob Zuma ontslaan word.

Zuma se ondersteuners het alle stoppe uitgetrek om ’n gevoel van solidariteit met Castro se heengaan op te vorder. Vir die ANC was Castro ’n groot held, en selfs oudpres. Thabo Mbeki het in sy huldeblyk ’n paar dinge oor Castro kwytgeraak wat nie met die werklikheid strook nie.

Met min. Pravin Gordhan wat so spook om Suid-Afrika se begrotingstekort te laat krimp, staan ’n mens eenvoudig in verwondering oor die 2013-ooreenkoms met Kuba wat oor ekonomiese bystand handel. Dit behels dat Suid-Afrika altesaam R350 miljoen aan Kuba beskikbaar stel. ’n Groot deel van die ooreenkoms is kompleks, en verseker dat van die geld na Suid-Afrika terugvloei, soos die aankoop van saad in Suid-Afrika, en dele is ook terugbetaalbaar.

Die interessantste deel lui egter: “R100 million solidarity grant (non-repayable). Availability period is 24 months.”

Die ANC se beheptheid met Kuba dateer veral van die fisieke Kubaanse betrokkenheid in die Angolese burgeroorlog aan die kant van die Marxistiese MPLA, terwyl Suid-Afrika nouer met Unita saamgewerk het. Suid-Afrika het die optrede beskou, of geregverdig, as noodsaaklik om kommunistiese uitbreiding te stuit, maar die ontwrigtende invloed wat dit op Swapo se toevoerlyne sou kry, was ook ’n belangrike oorweging.

Verskeie groot veldslae het plaasgevind. Spesiale eenhede van die Suid-Afrikaanse magte, soos die 32-Bataljon en Koevoet, het groot sukses behaal.

Oor wie die beste daarvan afgekom het, hang dit af van watter kant se storie geglo word. Volgens die Kubaanse, en dus nou die huidige Suid-Afrikaanse regering se weergawe, het die Kubane gehelp om die Suid-Afrikaanse magte in Angola te verslaan. Verskeie groot oorwinnings in bekende veldslae, soos dié van Cuito Canavale, word opgeëis terwyl die Suid-Afrikaners betrokke by daardie gevegte meen die Kubane is in daardie veldslae verpletterend verslaan.

Die oorwinnaar skryf egter die geskiedenis. Gisteraand op SABC3 se nuus lees die nuusleser dat die Kubaanse magte die Suid-Afrikaanse magte help verslaan het asof dit ’n feit is.

Die noue betrekkinge is volgehou. Hieronder tel dat ’n aantal behoeftige jong mense jaarliks op die koste van die Suid-Afrikaanse regering na Kuba gestuur word om as dokters opgelei te word. Kubaanse dokters is ook na Suid-Afrika gestuur om veral die tekort aan dokters in plattelandse gebiede te verlig.

Die Vrystaatse regering het Kubaanse wateringenieurs teen astronomiese koste laat kom om die provinsie se verbrokkelende waterinfrastruktuur te kom regruk, maar het dikwels ledig gebly terwyl hulle aansienlike salarisse en verblyfkoste betaal is – en terwyl daar goed opgeleide mense in Suid-Afrika is wat die werk kan doen.

Luidens koerantopskrifte is sake maar gedemp in Havana, terwyl mense in Miami (waar die meeste uitgeweke Kubane woon) juig. Selfs die Castro’s se eie suster was ’n uitgewekene.

Castro se dood sal vermoedelik nie die nodige emosie opwek dat die ANC in ’n greep van konsolidasie met die ontslape Kubaanse leier sal gaan, sodat die tweespalt hier oor Zuma besweer word nie.

Of Zuma vandag se mosie van wantroue gaan oorleef of nie, hang af van of die mosie met ’n geheime stemming sal plaasvind of nie. As dit nie in die geheim gaan wees nie, kan dit net sowel as ’n sensus beskryf word en sal Zuma se ego bloot effe gekneus wees.

In sekere sin is dit ook D-dag vir adj.pres. Cyril Ramaphosa. Slaag ’n mosie vandag het hy ongeveer twee jaar tyd om hom as president te vestig voor die ANC ’n nuwe leier (en president) verkies. Hoe langer Zuma aan die troon bly klou, hoe meer gaan die slagordes teen Ramaphosa opgestel word. In dié stadium het hy groot vakbondsteun.

Zuma, wat gereeld kla dat ander partye “hof toe hardloop” en so keer dat die ANC meerderheidswil kan afdwing, is self met die howe in die weer, en albei sake raak die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela. Hy maak daarop aanspraak dat hy volgens die Grondwet alleen die reg het om kommissies aan te stel, en self kan besluit oor die kommissarisse. Madonsela het in haar verslag oor staatskaping voorgestel dat ’n geregtelike kommissie die saak moet ondersoek, en dat die hoofregter iemand aanwys om as voorsittende kommissaris aangewys te word.

Zuma vergeet egter dat die konstitusionele hof hom verplig het om ’n kommissie van ondersoek van die wapenskandaal in te stel. Hy het self die voorsitter aangewys, met die gevolg dat die kommissie se bevindings weer voor die hof gebring word.

Madonsela het dit heel waarskynlik in haar agterkop gehad toe sy aanbeveel het dat die hoofregter wesenlik die aanstelling moet doen. Die uitspraak sal insiggewend wees.

Die nuwe openbare beskermer het na berig word strafregtelike aanklagte teen Madonsela ingebring omdat sy die bande van haar onderhoud met Zuma aan die media bekend gestel het. (’n Transkripsie van die onderhoud is in die verslag self opgeneem.) Sy het dit vrygestel nadat Zuma bly beweer het hy het nooit behoorlik kans gehad om op die bewering teen hom te reageer nie.

In 2003 het die destydse adjunk-direkteur-generaal van justisie, Mike Tshishonga, egter die minister, Penuell Maduna, se kop laat rol deur ’n nuuskonferensie te hou om praktyke oor die toekenning van insolvensiesake aan die groot klok te hang. Hy het aangevoer hy het eers alle interne middele tot sy beskikking aangewend, maar net teenspoed op die lyf geloop soos ’n posverskuiwing. Uiteindelik het die arbeidsappèlhof in sy guns beslis.

Het Madonsela, gestroop van haar magte as openbare beskermer, nog enige ander opsie gehad as om die bande beskikbaar te stel om haar beeld ongeskonde te laat?

Die ANC het vandag ’n unieke geleentheid om die land ’n reuseguns te bewys. Maar dis nie eintlik in die ANC se aard nie …

Saru-hoof: ‘Ons het julle in die steek gelaat’

$
0
0

Mark Alexander. Foto: Facebook/Saru

Mark Alexander. Foto: Facebook/Saru

Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het in ʼn sterk bewoorde verklaring glad nie doekies omgedraai oor die stand van rugby in Suid-Afrika nie en beloof ʼn omkeerstrategie is nou die topprioriteit.

Alexander het toegegee dat die Springbokke ʼn “uiters teleurstellende” seisoen beleef het. Alexander het planne bekend gemaak vir ʼn hersiening van die SA Rugby se administrasie en die Springbokke.

“Ons het ons ondersteuners, borge en uitsaaivennote in die steek gelaat. Ek wil graag aan al ons belanghebbendes om verskoning vra vir die teleurstelling wat ons hierdie seisoen gely het. Ons almal voel baie rou en teleurgesteld en dit sal maklik wees om halsoorkop besluite te neem, maar ons moet dit nie doen nie.”

Volgens Alexander sal hulle begin deur met die afrigter en ander spanrolspelers te gesels om hul menings en terugvoer te kry. Hy het gesê daar moet onder meer krities gekyk word na die keuringsbeleid rakende oorsese spelers. “Ons het vanjaar ʼn buitengewoon hoë aantal beserings aan sleutelspelers gesien en ons verloor baie ervare toetsspelers aan oorsese klubs, wat alles groot gevolge vir die Springbokke inhou. Ons moet maniere vind om hierdie uitdagings die hoof te bied.”

ʼn Kondisioneringsindaba vir die nasionale spanne en Vodacom Superrugby-biokinetici vind op 7 Desember plaas terwyl die afrigtersindaba op 12 Desember gehou sal word. ʼn Hoofraadsvergadering vind intussen ook op 9 Desember plaas.

Alexander het gesê van die sleutelveranderinge wat beplan word, sluit in:

  • Franchise- en nie-franchise-komitees om kommunikasie tussen unies en die uitvoerende raad te verbeter en om aanbevelings te maak ten opsigte van kompetisies en wedstrydsake
  • Die magtiging van derde partye om ʼn meerderheidsaandeel te kry in unies se sakebelange
  • Die verdubbeling van onafhanklike verteenwoordiging in die uitvoerende raad tot vier lede en ʼn verteenwoordiger vir die spelers
  • Die beëindiging van die visepresident se rol (aan die einde van die termyn in 2018) om die gekose verteenwoordigers in die raad tot ses te verminder
  • Die totstandkoming van ʼn adviesraad bestaande uit toonaangewende individue uit die sakesektor en burgerlike samelewing

Alexander het gesê die topprioriteit is ʼn omkeerstrategie vir die Springbokspan.

Steve kap na ‘analfabeet, manteldraaier en werfbobbejaan’

$
0
0

Hofmeyr het die foto op Twitter gelaai.

Hofmeyr het die foto op Twitter gelaai.

Die sanger Steve Hofmeyr het Saterdag ʼn skare op Kerkplein in Pretoria toegespreek en onder meer uitgevaar teen pres. Jacob Zuma, die DA-leier Mmusi Maimane en die EFF-leier Julius Malema .

Hofmeyr, wat ʼn koeëlvaste baadjie onder sy aanknoophemp aangehad het, het begin deur te vra: “Is 2016 nie die jaar waarin daar vir eens en vir altyd bevestig is hoeveel dooie gewig ek en jy saamsleep nie? Weet jy hoeveel dooie gewig subsidieer jou belasting? Die juk van transformasie is dooie gewig. Die plig om te versoen: dooie gewig. My skuldgevoelens oor die geskiedenis: dooie gewig. My skuldgevoelens oor my nasionale volkstrots: dooie gewig. My plig om die hoofstroommedia agting te gee: dooie gewig. In 2016 skud ek dit af.”

Hofmeyr het gesê sy verdraagsaamheid en respek vir ander volke sal van voor af verdien moet word. Volgens hom is daar drie eienskappe om ʼn volk te wees. “ʼn Onderskeibare kulturele karakter, belange en waardes waarvoor jy sal sterf, en jy moet oor jou eie belange en waardes regeer. Ons word regeer deur ʼn analfabeet. Wat is ons ander keuses? ʼn Manteldraaier in die DA en ʼn werfbobbejaan in die EFF.”

Hy het ook uitgevaar teen Fikile Mbalula, minister van sport, wat volgens hom rugby met politiek verwoes het en die mededingende gees in Suid-Afrikaanse sport vir altyd uitgedoof het. “Ek is vervreem van hierdie wanbestuur en onbevoegdheid en betaal nog net belasting omdat hulle my dwing. En hulle gaan nog smeek vir daardie belasting wanneer Donald Trump sy krane na Afrika toedraai en die nugter wêreld weer afsonderlike ontwikkeling voorstaan.”

Volgens Hofmeyr was apartheid nooit daar om enigiemand te onderdruk nie. “Daardie leuen is gebruik om ʼn klein minderheid uit hul soewereiniteit uit te boelie, te ruk. Probeer dit gerus vandag. Jy sal gou jou rieme styfloop. In 2016 wil volke, soos in enige ander tyd, weer apart wees. Goeie bure, maar onafhanklike bure wees.”

Hy het gesê die land kan nie werk wanneer die “kattekwaad van twee seuns in Middelburg” verhef word bo die sterftesyfer, bo die verkragtingsyfer en bo die mees brutale plaasmoorde in die wêreld nie. Dit was met verwysing na die doodskis-voorval waarin twee mans aangekla word omdat hulle na bewering ʼn ander man in ʼn doodskis ingedwing het.

Hofmeyr het die foto op Facebook gelaai.

Hofmeyr het die foto op Facebook gelaai.

“Mmusi [Maimane] wil saam met die EFF klippe gooi na twee outjies in Middelburg, want dit sal ons aandag aflei van die moorddadigste stad in Afrika, Kaapstad. Dit sal ons aandag aflei van derduisende verkragters, kleuterverkragters, strykysterkrygers, verwurgers, verdrinkers, aanranders en bejaardeboelies. Daar is, soos ek nou praat, ʼn vrou in Suid-Afrika wat skree vir haar lewe, Mmusi.”

Hofmeyr het gevra hoe dit kan gebeur dat ʼn “duisend jaar oue metafoor komende van ʼn wit persoon”, met verwysing na Penny Sparrow, meer aandag kan kry as “ʼn swart man wat petrol in ʼn bejaarde man se keel afgooi”.

“As ek vernietigende mense nie ‘ape’ mag noem nie, vuil mense nie ‘varke’ mag noem nie, skelm mense ‘jakkalse’ mag noem of wyse mense ‘uile’ mag noem nie, watter waarde het taal dan vir my en jou?”

Hofmeyr het die foto op Facebook gelaai.

Hofmeyr het die foto op Facebook gelaai.

Hy het ook ʼn boodskap vir die EFF-leier Julius Malema gehad. “Ek sal nie my land, grond of huis afstaan nie, want meer as genoeg mans, vroue en kinders het gesterf daarvoor en dis moeilik genoeg om dit af te betaal. Ek sal nie val vir hierdie substandaard wat jy opdis as die norm nie. Nie op my skof nie. Ek sal nie voorgeskryf word waarop en wanneer ek trots mag wees nie. Ek sal sing, skryf en rym soos my hart my lei. Ek sal nie stilbly omdat my woordeskat gekriminaliseer word nie. Nie op my skof nie. Ek sal skree tot ek gehoor word.”

Hofmeyr het afgesluit deur te sê vir die eerste keer in 21 jaar gaan hy nie net swartgallig wees nie. “Meer as enige ander tyd in die afgelope 21 jaar, sien ek weer hoop op die horison, dat my politieke behoudendheid en nasietrots dalk die norm kan wees en dat die wêreld die Boere-Afrikaner al beter gaan verstaan in 2017. Let maar op my woorde. Wees veilig. Wees trots. Bly by my. Dankie.”

Lees Hofmeyr se volledige toespraak op sy Facebook-blad.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live