André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit (17), het nie Vrydag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn nie.
Die staatsaanklaer het in Van Wyk se afwesigheid versoek dat hy vir ʼn verdere 20 dae vir waarneming in die Weskoppies-psigiatriese hospitaal bly. Die verdediging het nie die versoek teengestaan nie en gesê dit is in belang van geregtigheid.
Die saak is hierna tot 15 Desember uitgestel vir die afhandeling van die ondersoek. ʼn Verslag oor Van Wyk se sielkundige toestand sal na verwagting ook dan gereed wees.
Van Wyk, wat teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en lykskending, se ouers was Vrydag in die hof.
Hy is tydens sy vorige hofverskyning, op 26 September, na ʼn psigiatriese hospitaal verwys vir sielkundige waarneming. Die hof het egter op 25 Oktober gehoor ʼn bed by die Weskoppies-psigiatriese hospitaal het eers onlangs beskikbaar geraak en hy is toe vir die 30 dae waarneming gestuur.
Van Wyk, wat saam met Anika op skool was, is op 22 September deur ʼn staatsgeneesheer by die Pretoria-Noord-kliniek ondersoek, waartydens hy aangedui het hy het geheueverlies en kan nie onthou wat tydens Anika se moord gebeur het nie.
Die staatsgeneesheer het aanbeveel Van Wyk moet behoorlike waarneming ondergaan en was van mening dat Van Wyk die erns van die aanklagte teen hom verstaan, asook die gevolge van ʼn moontlike skuldigbevinding. “Hy kan nie beskryf wat tydens die voorval gebeur het nie en beskryf nie die relevante feite nie. Hy het geheueverlies oor die voorval en ontken hy sien drogbeelde of hallusineer,” lui die verslag.
Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.
Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee, ná ʼn lang geregtelike doodsondersoek in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man, wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.
Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.