ʼn Voormalige musiekonderwyser by ʼn vooraanstaande privaat skool in Constantia in Kaapstad sal Dinsdag in die hof verskyn op aanklagte van seksuele aanranding.
Die 32-jarige man het sedert 2010 privaat musieklesse vir seuns én meisies by die privaat skool Reddam House gegee. Hy is in Julie in hegtenis geneem nadat hy na bewering nege- en tienjarige seuns by die skool gemolesteer het.
Die onderwyser is vroeër op borgtog van R2 000 vrygelaat en mag geen kontak met personeel van Reddam House of die klaers hê nie. Hy sal Dinsdag weer in die beskuldigdebank in die Wynberg-landdroshof wees.
Volgens wet mag die onderwyser se naam nie genoem word totdat hy gepleit het nie.