GD Kotzé is Donderdagmiddag dood toe hy aan ʼn hek op die plaas gevat het en doodgeskok is. Dirk, GD se pa, het aan Maroela Media gesê GD het saam met sy ma en agtjarige sussie, Machné, by sy skoonouers op hul plaas buite Petrusburg gaan kuier. Dirk sou later by hulle aansluit.
“Hy het nog die middag saam met sy oupa, sussie en ʼn ander oom in die veld gaan braai om Braaidag te vier,” het Dirk gesê. Nadat hulle by die huis aangekom het, het GD sy oupa gehelp om ganse uit die tuin te jaag. Hy het aan die hek in die heining gevat en is geskok.
“Dit was ʼn gewone hek, nie ʼn elektriese hek nie. Ons weet steeds nie heeltemal wat presies gebeur het nie. Daar loop ʼn kragkabel van die koelkamer in die stoor na die hek toe, dus vermoed ons daar moes ʼn kabel onder die grond gelek het,” het Dirk gesê.
GD se oupa het hom van die hek af geruk en met hom na ʼn dokter se spreekkamer in Petrusburg gejaag. Daar het hulle gewag vir die ambulans wat van Bloemfontein af moes kom. “My skoonpa sê GD het nog so nou en dan ʼn asempie gegee, maar ek dink hy was min of meer op slag dood,” het Dirk gesê.
Dirk het van Jacobsdal na Petrusburg gejaag. “Toe die ambulans daar aankom, het hulle nog lank met hom gespook en hom probeer bybring, maar ek kon sien dit was tevergeefs. Hy was klaar weg.”
Hy vertel dat GD ʼn opgewekte en bekkige seuntjie was, wat altyd met almal ʼn geselsie wou aanknoop. “Hy het meer mense in Jacobsdal geken as wat ek ken. Hy het altyd met al die boere en die ouers by die kleuterskool gesels en was so vriendelik en spontaan. Alles wat hy gedoen het, het hy voluit gedoen. Hy het altyd geglimlag,” het ʼn emosionele Dirk gesê.
“Machné weet wat gebeur het, maar ek weet nie of die werklikheid al heeltemal by haar ingesink het nie. Sy wag nog heeltyd dat haar boetie huis toe kom. Toe ons vroeër vir [GD] kleertjies moes uitkies om na die begrafnisondernemer te vat, was sy so opgewonde omdat sy gedink het hy kom huistoe. Toe moes ons eers verduidelik dat hy nooit weer huistoe kom nie.”
Dirk het gesê ʼn roudiens vir GD sal Woensdag in die NG Kerk op Jacobsdal gehou word. GD sal veras word.
“Dit is onbeskryflik moeilik. ʼn Mens verstaan dit nie. Ek dink nie ʼn mens sal dit ooit verstaan nie.”