
‘n Skermskoot van die Pro Puk-webtuiste.
Die Pro-Puk-groep, in samewerking met die Solidariteit Beweging, het hierdie webtuiste gestig kort nadat die NWU se Potchefstroomkampus in 2014 in die spervuur beland het weens berigte oor koshuis-groetgebare op die kampus wat glo herinner het aan die saluut van Nazi-Duitsland.
Die herrie het tot verskeie veranderinge en ook die bespoediging van transformasie op die Potchefstroomkampus gelei. Die oudstudente het na aanleiding hiervan die Pro-Puk-veldtog geloods om Afrikaans op die Potchefstroomkampus te beskerm en die webtuiste is terselfdertyd vir dié doel geskep.
Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê dit is ironies dat die NWU juis teen die spreekbuis vir sy alumni probeer optree het, terwyl die alumni die wese en toekoms van hul alma mater probeer beskerm het.
“Die uitspraak van die tribunaal bevestig dat die registrasie en bestaan van die Pro-Puk-domein nie in kwade trou gedoen is nie. Die uitspraak bevestig ook dat die gebruik van die naam nie beteken dat alumni onbillik voordeel trek uit die gebruik van die naam nie en dat dit ook nie tot nadeel van die NWU se regte strek nie,” het Kruger gesê.
Die Pro-Puk-groep funksioneer nou saam met die Solidariteit Beweging en het sodoende baie wyer by Afrikaans in die tersiêre sektor betrokke begin raak omdat hulle ook aansluiting vind by die nuutgestigte Afrikaanse Alumni-vereniging. Dié vereniging het die lig gesien nadat die sogenaamde “Luister”-video dieselfde gevolge op die Maties-kampus gehad het.
Sommige lede van die netwerk dien ook op die rade van die Stellenbosch Universiteit en die Universiteit van Pretoria. Verder werk hulle ook saam met personeel en studente by al die tradisioneel Afrikaanse universiteite. Hulle is ook aktief betrokke by die vestiging van Akademia, Solidariteit se nuwe Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit.
Volgens Kruger stuur die uitspraak ʼn sterk boodskap uit dat Puk-alumni die reg het om kommentaar te lewer en toe te tree tot die debat oor die toekoms van die NWU.
“Ons is verheug dat hierdie stem nie stilgemaak is nie en ons glo dat dit verdere momentum aan die alumni se Pro-Puk-veldtog sal gee. Universiteitsowerhede in Suid-Afrika moet kennis neem daarvan dat alumni nie stilweg sal toekyk hoe vergrype deur universiteitsbesture en die regering onder die vaandel van transformasie by hul alma maters plaasvind nie.”