
Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com
Volgens die SAUK se jaarverslag, wat Woensdag in die parlement ter tafel gelê is, het Motsoeneng se salaris die afgelope finansiële jaar gestyg van R2 872 000 tot R3 784 000. Dit sluit ʼn bonus van R279 000 in.
Die SAUK het egter in die afgelope boekjaar ʼn verlies van R401 miljoen aangeteken. Die openbare uitsaaier het die verlies toegeskryf aan ʼn styging van R1,2 miljard in uitgawes. Die SAUK het in die 2013/14-boekjaar ʼn wins van R559 miljoen gewys.
Die Openbare Beskermer het verlede jaar bevind dat Motsoeneng in een jaar drie salarisverhogings gekry het terwyl hy in die pos waargeneem het.
“Dit lyk asof hy weer besig is met sy ou streke,” het Gavin Davids, die DA se skaduminister van kommunikasie, gesê. “Hierdie salarisverhoging van nagenoeg ʼn miljoen rand is onverstaanbaar gegewe die voortslepende krisis by die SAUK.
“Daar kan geen regverdiging wees vir Motsoeneng se salaris om in een jaar met 31% te styg nie. Motsoeneng het in 2010 net R334 000 verdien toe hy as radiovervaardiger by die SAUK gewerk het. Vyf jaar later het sy salaris tienvoudig verhoog.”
Davis het gesê die DA sal Thuli Madonsela vra om Motsoeneng se nuutste salarisverhoging se ondersoek. “Ons kan nie terugsit en kyk hoe Motsoeneng die SAUK vernietig en dan ruim daarvoor vergoed word nie.”
Madonsela het in haar verslag oor Motsoeneng aanbeveel dat die SAUK stappe teen hom doen omdat hy nie verklaar het hy het nie ʼn matrieksertifikaat en ander ongerymdhede rondom sy salaris. Faith Muthambi, minister van kommunikasie, het egter kort hierna Motsoeneng se aanstelling permanent gemaak.
Klik hier vir alle vorige berigte oor Hlaudi Motsoeneng op Maroela Media.