
Phindile Joseph Ntshongwana
Phindile Joseph Ntshongwana, voormalige Blou Bul-speler en veroordeelde bylmoordenaar, se vreemde optrede terwyl hy ʼn vrou drie dae lank aangehou en herhaaldelik verkrag het, is ʼn bewys hy was mal, het die hof Maandag gehoor.
Ntshongwana se advokaat, Themba Majoli, het in die hooggeregshof in Durban aansoek gedoen om verlof tot appèl teen sy kliënt se uitspraak en vonnis. Regter Irfaan Khalil het hom in Desember verlede jaar skuldig bevind op aanklag van vier moorde en hom tot vyf keer lewenslank gevonnis.
Ntshongwana het Thembelenkosini Cebekhulu op 20 Maart 2011 in Montclair vermoor, Paulos Hlongwa twee dae later, Simon Ngidi die voldende dag en ʼn onbekende man iewers deur die loop van dieselfde week. Al die slagoffers is met ʼn byl doodgekap. Twee van die slagoffers is onthoof.
Hy het ook tereg gestaan op twee aanklagte van poging tot moord nadat hy een man op 21 Maart 2011 in Umlazi aangeval het, en ʼn tweede man op 23 Maart in Lamontville.
Hy het ook ʼn vrou verkrag en ontvoer. Hy het haar na sy huis in Yellowwood Park geneem. Tydens haar getuienis het die hof gehoor hoe Ntshongwana haar beskuldig het dat sy ontrou is, selfs al was sy nie sy meisie nie. Hy het haar ook daarvan beskuldig dat sy sy dogter met MIV/Vigs besmet het, al het hy nie ʼn dogter nie.
“Die klaer het getuig van die gedrag van ʼn persoon wat geestelik versteurd is,” het Majoli Maandag aan regter Khalil gesê. “Hy is ernstig geestelik versteurd.”
Majoli het gesê Khalil het ʼn fout gemaak en selektief na die bewyse gekyk. Hy voer aan die verkragtingslagoffer, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, was ʼn goeie getuie. Sy was die beste persoon wat oor Ntshonwana se geestelike gesondheid kon getuig. “Sy het nie die getuienis uitgedink nie, hoe vreemd dit ook al geklink het. Dit is nog nie bo redelike twyfel bewys dat hy nie mal was toe hy die misdade gepleeg het nie,” voer Majoli aan.
Volgens hom het die hof ook nie in ag geneem dat Ntshongwana nie sy medikasie gereeld gebruik het nie, en dat hy voor die misdade reeds geestelik versteurd verklaar is. Khalil het tydens die hofsaak die voormalige rugbyspeler bevoeg verklaar om verhoor te word en toe hy hom skuldig bevind het, gesê Ntshongwana was ten volle bewus van dit wat hy doen, veral aangesien hy probeer het om die bewyse van sy misdade te versteek.
Majoli voer aan sy kliënt moet behandel word en nie in ʼn tronk geplaas word soos ʼn gewone misdadiger nie. “Ons tronke moet tronke wees, en nie fasiliteite vir geestelik versteurdes nie.”
Advokaat Nadira Moosa, vir die staat, het gesê Khalil se uitspraak was volledig. Sy het daarop gewys die onus berus op die staat om te bewys ʼn persoon het die misdade gepleeg, en dit het die staat gedoen. Wanneer geestelike ongesteldheid egter ter sprake kom, berus die onus op die beskuldigde om te bewys dat hy nie krimineel verantwoordbaar gehou kan word nie.
Regter Khalil sal na verwagting Dinsdag aandui of hy Ntshongwana se aansoek om verlof tot appèl sal goedkeur.
Lees alle vorige berigte oor Phindile Joseph Ntshongwana op Maroela Media.