
Foto’s verskaf deur Jessica Moreira
Talle luukse huise op die oewer van die Vaalrivier aan die Vrystaatse kant is Sondag in puin gelê toe ’n brand ontstaan het.
Lt. Livhuhani Hani, woordvoerder van die polisie, het die brand bevestig en gesê daar was nog geen berigte van beserings nie. Volgens Hani se inligting het 18 huise afgebrand. Sy het gesê die brand het omstreeks 11:00 ontstaan en dat dit nog nie duidelik is wat daartoe gelei het nie.
Jessica Moreira, wat op die rivier se oewer aan die Gautengse kant in Vanderbijlpark woon, het egter aan Maroela Media gesê soveel as 20 huise kan in die brand verwoes wees. Dit is nog nie duidelik of dit private huise of vakansiehuise was nie.

Foto’s verskaf deur Jessica Moreira
Volgens Moreira het hulle rook gesien waarna hulle met ʼn boot na die oorkant gevaar het om te probeer uitvind wat aangaan. Volgens Moreira was een huis aan die brand en het die huis langsaan weens die hitte ook aan die brand geslaan. “Toe het die volgende een begin brand en so het dit aangegaan. Dit was almal houthuise met grasdakke.”
Volgens Moreira kon mense wat verder rivier af woon betyds ontruim en was daar mense wat water uit die rivier gepomp het en met tuinslange die huise natgespuit het. Moreira het gesê die brand was in die omgewing oorkant Stonehaven.
Volgens onbevestigde berigte het ʼn gasbottel wat ontplof het tot die brand gelei.







