
Argieffoto
“’n Groep toegewyde ondersoekers het die week onverpoos gewerk en dit het vrugte afgewerp toe ʼn man wat gesoek is op 12 aanklagte van verkragting in hegtenis geneem is,” het konst. Noyoliso Rwexana, woordvoerder van die polisie, gesê.
Die 31-jarige verdagte is Donderdag in Gugulethu in hegtenis geneem. Die vermeende verkragter se modus operandi was glo om vir vroue werk aan te bied by ’n begrafnisonderneming. “Hy het die vroue dan gevra om hom te vergesel na ʼn gebou naby die Bellville-treinstasie waar hy hulle glo in die veld ingesleep en verkrag het. Hy het hulle glo ook met ʼn mes gedreig en van hul selfone en kontant beroof.”
Volgens Rwexana is die verdagte vasgetrek deur een van sy slagoffers se selfone na te spoor. Die verdagte sal Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn op 12 aanklagte van verkragting.