Brig. Selvy Mohlahla, woordvoerder van die Mpumalanga-polisie, het gesê konstabels Gladwell Kganyane (37) en Peter Mgwenya (32) het in die Kanyamazane-landdroshof op aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg verskyn.
Kganyane en Mgwenya het gereageer op inligting dat ʼn motor van Swaziland gekom het om dagga by ʼn huis in Pienaar naby Nelspruit af te lewer. Die beamptes het die motor opgespoor en versoek om langs die pad af te trek. Vier vyfliter-houers vol dagga is in die motor gevind. Die vier insittendes is in hegtenis geneem en na die plaaslike polisiestasie geneem.
“Een van die verdagtes het later ʼn klag by die stasie gelê dat hy glo R2 000 omkoopgeld aan die polisiebeamptes betaal het nadat hulle op die dagga beslag gelê het,” het Mohlahla gesê. “Die saak is ondersoek en dit het aan die lig gekom dat die dagga ook nie in die bewysregister aangeteken is nie. Die konstabels is later in ʼn uitkenningsparade uitgewys as die beamptes wat die omkoopgeld aanvaar en op die dagga beslag gelê het.
Kganyane en Mgwenya is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat. Die vier verdagtes wat vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is, sal op 3 September in die hof verskyn.