ʼn Verpleegskool by die St. Ritas-hospitaal in Glen Cowie in Limpopo is Woensdag aan die brand gesteek nadat gewelddadige betogings in die gebied uitgebreek het.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die geweld het begin toe gemeenskapslede een van die inwoners aangerand het omdat hulle hom van aanranding verdink het. Die situasie het verder handuit geruk toe woedende inwoners die paaie met klippe en ʼn groot skeepshouer wat aan ʼn selfoonmaatskappy behoort, afgesper het.
Die inwoners het daarna kamers by die verpleegskool aan die brand gesteek, asook ʼn vragmotor wat aan ʼn privaat maatskappy behoort.
“Die inwoners is ongelukkig omdat hulle beweer mense van Polokwane word by die verpleegskool opgelei, terwyl die jeug van die gemeenskap swaar kry,” het Otto gesê. Niemand was in die gebou ten tyde van die brand nie.
“Openbareorde-polisiebeamptes is na die gebied ontbied en brandweermanne het die brand geblus. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het Otto gesê. Die situasie was Donderdagoggend kalm, maar polisie was steeds op die toneel om die gebied te monitor.

