
Rudolph Coetzee (Foto verskaf deur die SAPD)
Rudolph Coetzee (23) is Woensdag in die Noord-Kaapse hooggeregshof gevonnis op 45 aanklagte insluitend verkragting, seksuele aanranding, poging tot verkragting en die vervaardiging van kinderpornografie.
“Coetzee is effektief tot 24 jaar tronkstraf gevonnis,” het lt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, gesê. Al die aanklagte hou verband met oortredings met plaaslike kinders tussen drie en 12 jaar oud, hoofsaaklik seuns. Die misdade is tussen Mei 2010 en April 2014 gepleeg.
Regterpresident Frans Kgomo het Coetzee tot 24 jaar tronkstraf gevonnis op vyf aanklagte van verkragting, 10 jaar op 16 aanklagte van seksuele aanranding, agt jaar op twee aanklagte van poging tot verkragting en 10 jaar op 22 aanklagte van die vervaardiging van kinderpornografie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Hy sal effektief 24 jaar agter tralies deurbring.
“Coetzee is klinies gediagnoseer as ʼn pedofiel, iemand wat seksueel geprikkel word deur jong kinders,” het Tawana bygevoeg.
Hy is al sedert sy inhegtenisneming op 22 Mei 2014 in aanhouding. Tydens sy inhegtenisneming het die polisie beslag gelê op pornografiese materiaal waar hy kaal is saam met kinders tussen drie en 12 jaar oud en seksuele dade met hulle pleeg. Die foto’s was op sy persoonlike rekenaar en die polisie het beslag gelê daarop tydens die klopjag en soektog by sy huis wat hy as ʼn fotografie-studio gebruik het.
“Die hof het tydens die vonnisoplegging gesê Coetzee het die lewe van kinders verwoes, en hulle almal het emosionele trauma opgedoen,” het Mashudu Malabi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), in ʼn verklaring gesê. “Een van die kinders toon selfmoordneigings en ander het dwelms en alkohol begin misbruik. Die hof het beveel dat Coetzee se naam in die lys van seksuele oortreders aangeteken word.”