
Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA
Hy het, na berig word, Europese lande skerp oor die vlugtelingkrisis aangespreek en daarvan beskuldig dat hulle self die probleem geskep het. Oor die algemeen lyk dit of Zuma probeer om die bewind van die diktator, Basjir al-Assad, in Sirië goed te praat.
Iemand wat nou nog nie weet dat dit baie moeilik is om in ʼn Midde-Oosterse land in te gryp nie, het inderdaad nie verstand nie. Veral as dit nog met ideale van ʼn westerse model van demokrasie gedoen word. Dit voldoen aan die internasionale reg se bepalings oor “die reg om te beskerm”, waar ʼn regering só oorboord gaan dat volksmoord en misdade teen die mensdom ʼn (feitlik) uitgemaakte saak is as nié ingegryp word nie.
Die groot moondhede het ook nie almal dieselfde soort belange nie. In die geval van Sirië is resolusies wat (dalk) verligting sou bring, telkemale deur Rusland en China geveto – twee lande wat as bondgenote van die diktatuur beskryf kan word.
Heel pikant swaai Zuma sy vinger vir die Weste kort nadat die Amerikaanse Nywerheidskamer in die Suid-Afrikaanse parlement gesê het beleggers met ʼn gesamentlike waarde van R1,35 triljoen staan gereed om in Suid-Afrika te belê, maar solank die regering volhou met beleidsonsekerheid oor beleggings, hou hulle verby.
Ook die Europese Kamer van Handel en Nywerheid in Suid-Afrika het heel ondiplomaties sy stem bygevoeg en gesê buitelandse beleggings in Suid-Afrika is nie veilig nie. Suid-Afrika staan, ten spyte van reuse beleggings, vyandig teenoor die Weste ter wille van sy Brics-vennote.
Miskien is daar iets sinies te lese in die naam van die wetsontwerp wat nou die hare laat waai, naamlik die wetsontwerp op die beskerming en bevordering van beleggings. Volgens beleggers weerspreek die inhoud van die wetsontwerp die titel daarvan heeltemal. Die vingers word (al weer) na minister Rob Davies, ʼn ideologies harde kommunis, gewys.
Volgens die Vryheidsfront Plus gaan beleggers, as hulle uit die land padgee, ook sommer uit Afrika padgee.
Maar is dit nie baie voor op die wa om oorsese diplomate die leviete voor te lees terwyl dit in die eie land brand nie? Op ongemaklik baie plekke, soos munisipaliteite en universiteite, word geboue en voertuie aan die brand gesteek. Daar is mos duidelik baie ruimte vir eers huis skoon maak voordat die land hom in ingewikkelde internasionale kwessies begeef.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters het pas bevind dat die meeste klein en medium grootte ondernemings vou weens kontantvloeiprobleme. Dit word minstens deels weer veroorsaak deur die staat wat lank neem om rekenings te betaal. Dit neem ʼn provinsiale regering gemiddeld 86 dae om sy rekening aan ʼn klein onderneming te betaal.
Maar Zuma het die vermetelheid om aan ander te vertel hoe hulle hul sake moet hanteer. Die sirkus duur ongelukkig voort.