
Argieffoto (Foto: Pixabay)
Vyf beursprogramme, ter waarde van R250 000 elk, is vandag in Krugersdorp tydens ‘n funksie by die Hoërskool Noordheuwel bekendgestel. Die beurse, wat bekendstaan as die eNuus Elite- beursprogram by Akademia, is spesifiek daarop gemik om studente blootstelling aan die wêreld van werk te gee terwyl hulle na-uurs hul BCom graad in Ondernemingsbestuur by Akademia studeer.
Volgens Andries Cornelissen, nuusredakteur van eNuus, bied hierdie beursprogram aan studente die geleentheid om na drie jaar met ‘n Graad in Ondernemingsbestuur en drie jaar se praktykgerigte werkservaring weg te stap. “Baie maatskappye het in vandag se gejaagde tye min tyd om onervare persone op te lei, en verkies daarom om kandidate met ervaring in die werksgebied aan te stel. Daarom sien ons hierdie as ‘n ideale geleentheid vir die skoolverlatersmark,” aldus Cornelissen.
Verdere voordele van hierdie beursprogram sluit maandelikse sakgeld van R2 000, studiementorskap, persoonlike ontwikkelingskursusse, blootstelling aan verskeie sakeleiers en ‘n buitelandse sakereis in die derde jaar in. Om te kwalifiseer vir die Elite-beursprogram, moet ‘n aansoeker ‘n gemiddelde punt van 70% in sy rekordeksamen behaal en voldoen aan die vereistes vir die spesifieke graadstudie by Akademia. Klik hier om aanlyn in te skryf.
Akademia het ook van die geleentheid gebruik gemaak om sy nuwe studiesentrum in Krugersdorp aan te kondig om die gemeenskappe aan die Wes-Rand van Johannesburg en die nabye Noordwes-provinsie in 2016 te bedien. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is dit die eerste stap in ‘n vyfjaar uitbreidingsproses wat jaarliks nuwe programme en ‘n verdubbeling van die huidige studiesentrums in 2017 behels.
“Die uitbreiding van die universiteitsaanbod in Afrikaans is ‘n hoë prioriteit, siende dat ons onwrikbaar glo in die positiewe voordeel wat moedertaalonderrig vir studente inhou. Wêreldwyd bewys lande soos Duitsland, Japan en Frankryk dat die opleiding van studente in hul moedertaal wêrelderkende leiers oplewer,” het Visser bygevoeg.
Die aankondiging van nuwe kwalifikasies vir 2016 word na goedkeuring daarvan deur die departement van hoër onderwys en opleiding vir Oktober beplan. Benewens die BCom Ondernemingsbestuurgraad, bied Akademia ook na-uurs ander geakkrediteerde kwalifikasies met Afrikaans as die onderrigtaal.