Die man is in Randfontein, wes van Johannesburg, in hegtenis geneem, nadat dwelms in sy voertuig gevind is. Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het gesê die 26-jarige man se voertuig is gedurende ʼn roetine stop-en-soek-operasie afgetrek. “Hy het twee pakkies dwelms, vermoedelike CAT, in sy besit gehad,” het sy gesê.
Nadat polisiebeamptes die dwelms aan hom gevind het, is die polisie se honde-eenheid ingeroep om die motor deeglik te deursoek. “Nog 41 pakkies dwelms is in die stuurwiel van die motor gevind. Die geraamde waarde van die dwelms waarop daar beslag gelê is, is R10 000,” het Ernst gesê.
Die polisie is daarna na die man se huis, waar dit aan die lig gekom het dat hy dwelms vanaf die perseel verkoop, aangesien verpakkingsmateriaal en ʼn aansienlike bedrag kontant in sy kamer gekry is.
Die man sal binnekort in die Randfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van dwelms en dwelmhandel.