
Foto: ER24
Ses mans is Vrydagaand op die N2 in Riversdal in die Wes-Kaap oorlede tydens ʼn trompop botsing.
“ʼn Bakkie en ʼn motor het mekaar reg van voor getref,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Provinsiale nooddienste het reeds die pasiënte uit die voertuie gehaal toe paramedici van ER24 by die toneel aangekom het.”
Vyf van die pasiënte het reeds aan hul beserings beswyk. Hulle is op die toneel dood verklaar.
“Twee pasiënte was in ʼn kritieke toestand. Hulle is op die toneel behandel en is deur die provinsiale nooddienste na die Riversdal-hospitaal geneem vir dringende verdere behandeling,” het Meiring bygevoeg. “Een van die pasiënte het ongelukkig op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk.”
Owerhede ondersoek die oorsaak van die ongeluk.