Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Is ons dan ape? Nee, ape gedra hulle beter

$
0
0

Homo naledi (Foto: Skermskoot uit National Geographic-video)

Homo naledi (Foto: Skermskoot uit National Geographic-video)

Die nuus gister dat ’n span wetenskaplikes van oor die wêreld heen ’n nuwe vroeë homonied-spesie, Homo naledi, op Suid-Afrikaanse bodem ontdek het, is wêreldwyd groot nuus. Geen nuusmedium in Suid-Afrika wat sy sout werd is kon werklik waag om ’n blinde oog op dié aankondiging, met bykomende inligting, te werp nie.

En tog, menige redakteur sou by voorbaat krimp in die vooraf-wete dat daar ’n stroom kritiek sou wees. Die woord “evolusie” is immers ’n gelaaide een en maak by baie mense hewige emosies wakker.

En dit is oor hierdie reaksies en die wyse waarop dit dikwels erg beledigend teenoor mede-Christene aangebied word waaroor dit hier handel, eerder as ’n argument vir of teen evolusie. In die proses word hele kerkverbande verdoem – terwyl die Bybel dit immers duidelik stel dat die oordeel ons nie toekom nie.

Uit ’n wetenskaplike oogpunt beskou sal daar vele vraagtekens wees oor hoekom die aankondiging gedoen is terwyl daar byvoorbeeld nog geen ouderdomsbepaling gedoen is nie. Die standaard-proses wat deesdae gevolg word, om die ouderdom deur minstens drie erkende metodes te bepaal, waarvan die resultate ooreen moet kom, gaan nog gevolg word. Veral in hierdie geval waar die nuwe spesie soveel eienskappe met baie ou  en veel jonger spesies deel, sou verwag word dat die ouderdom eers bepaal sou word. Voorts gaan probeer word om DNS te onttrek. Die uitslae hiervan sou vele vrae beantwoord. Die moderne mens, sowel as sy naaste verwante, die Neandertal en Denisovan, het immers een chromosoom minder as die groot ape en ander oorgangsfossiele.

Die NG Kerk se formele beleid oor evolusie maak in hoofsaak vir drie opsies voorsiening wat aan lidmate ’n mate van keusevryheid bied. Dit sluit in: 1) teïstiese evolusie (God beheer die proses as deel van sy skeppingswyse); 2) lidmate kan die Bybelse skeppingsverhale soos vervat in Genesis 1 (die tweede skeppingsverhaal en geskep in die tyd van die ballingskap) en Genesis 2 (die eerste skeppingsverhaal en geskep in die tyd van Dawid en Salomo) aanhang; of 3) ’n benadering wat as ou-aarde-skepping beskryf kan word waar die skepping letterlik met die Bybel ooreenstem, maar in die oper konteks dat die aarde ongeveer 4,5 miljard jaar oud is, en nie 6 000 jaar oud nie (die argument hier is dat een dag soos ’n duisend jaar is, en ’n duisend jaar soos een dag – vergelyk Psalm 90:4 en 2 Petrus 3:8).

Die Hervormde Kerk se standpunt, soos gestel in die e-Hervormer, kom met dié van die teïstiese evolusie ooreen. Daar word onderskei tussen ’n voor-historiese tyd (voor Abraham) en ’n historiese tyd daarna.

Die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) se standpunt is verwarrend deurdat, volgens ’n artikel in Die Kerkblad, ’n sinode ’n standpunt ingeneem het wat ooreenstem met die teïstiese evolusie, maar die mediaverklaring wat dit moes toelig, dit grootliks weerspreek het. Meer onlangs het deputate ’n studiestuk opgestel wat sterk ooreenkomste met die jong-aarde-kreasionisme toon, maar die verslag is nie bespreek nie, en die sinode het die status verander na “die opinie van die samestellers”.

In ’n baie interessante artikel in Die Kerkblad het emeritus-dominee Fanie Coetsee na God se twee openbaringswyses, die Skrif (Bybel) en die skepping (wetenskap) verwys.

Die Rooms-Katolieke Kerk, veral soos verwoord deur die jongste twee pouse, staan duidelik in die dampkring van die teïstiese evolusie.

Die Suidelike Baptiste in die VSA het formeel standpunt ten gunste van jong-aarde-kreasionisme ingeneem, ’n benadering wat grootliks voortvloei uit ’n boek wat net meer as 50 jaar gelede die lig gesien het, The Genesis Flood. Hierin is getrag om op wetenskaplike grondslag te toon dat die aarde inderdaad net 6 000 jaar oud is.

In die GKSA se deputateverslag is verwys na “probleemwetenskappe” soos geologie, sterrekunde en fisika wat almal met gegewens werk wat veel ouer as 6 000 jaar is. Hierby kan gevoeg word argeologie, insluitend Bybelse argeologie waar gewerk word met die stad Jerigo wat volgens sommige navorsing 10 000 jaar oud is.

Die idee dat die aarde 6 000  jaar oud is, is die gevolg van berekenings van ’n Anglikaans-Ierse biskop James Ussher (1581-1656) wat die stamregisters bereken het. Ander, wat presies dieselfde berekenings doen, kom egter by net meer as 4 000 jaar uit.

Nie alle wetenskaplikes wat evolusie aanhang, is Christene nie. Baie is ateïste, maar dit is aanmatigend om wetenskaplikes, waaronder paleontoloë, onder ’n kombers van ateïsme in te vee. Boonop is daar grootskaalse onkunde onderling oor die ander benaderings, en dit is dikwels juis hierdie strooipoppe wat aangeval word, eerder as dit wat die betrokkenes self werklik glo. Die bekendstes is seker dat die ontstaan van lewe deel van evolusie uitmaak, of dat evolusie altyd in ’n reguit lyn plaasvind (wat die wetenskaplikes strykdeur ontken).

Ook onder die leserskommentare op Maroela Media word woorde gebruik wat erg kwetsend is, soos “Wat ’n stinkende, stomende pot hondedrek.” Word hier nie nou heel en groot dele van kerkverbande veroordeel nie?

Sal die Here werklik van sy kind verwag om “namens” Hom tot sulke vlakke (en erger) te daal? Word daar dan nie van die Christen verwag dat ander die Here deur hom/haar  kan sien nie?

Moet die Christen nie die goeie vrugte van die Heilige Gees probeer nastreef nie? Dié vrugte, soos saamgestel uit die Bybel, is ʼn begrip van die genade van God, regverdigheid, waarheid, liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklikheid, genade teenoor ander, onpartydigheid en onbevooroordeeldheid word maar te maklik met die slegte vrugte vervang: deelname aan ongehoorsaamheid, dade wat in die geheim gepleeg word wat te erg is om te noem, verwaandheid, uitlokkendheid/skoorsoekerigheid, jaloesie, selfsug, die vertel van leuens, skynheiligheid en kwaadwillige vooroordeel.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!