
Nooddieste op die toneel. Foto’s: Verskaf
Twee mense is dood en twee beseer nadat ʼn swaarvoertuig wat ʼn graafmasjien vervoer het, Donderdagaand in Mpumalanga omgeslaan het.
Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het Vrydag gesê die ongeluk het op die N4 naby Ngodwana plaasgevind.
“Die vragmotor het vermoedelik geknipmes en omgeslaan. Met die nooddienswerkers se aankoms is die vragmotor op sy dak aangetref en die graafmasjien ʼn paar meter verder,” het Bodasing gesê.

Die graafmasjien wat vervoer is.
Bodasing het gesê drie mense was in die kajuit van die vragmotor vasgepen en moes deur die brandweer uit die wrak gesny word. “Twee mense, ʼn man en ʼn vrou, was reeds dood. Die derde persoon het ernstige beserings opgedoen en ʼn vierde persoon het geringe beserings opgedoen.”
Die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling en waarneming.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.