Die DA het gesê hy het met benoudheid verneem dat Berning Ntlemeza aangestel is as die nuwe hoof van die Valke.
“Hierdie is ’n man wie se aanstelling en optrede as waarnemende hoof van die Valke deur die Noord-Gautengse hooggeregshof as bevooroordeeld en oneerlik beskryf is,” het Dianne Kohler-Barnard, die DA se skaduminister van polisie, gesê.
“Ons sal om dié rede dringend aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie skryf en versoek dat die minister van polisie onmiddellik na die parlement ontbied word om die rasionaal vir die aanstelling te verduidelik.
“Die onverklaarbare skuif deur die minister moet luidkeels bevraagteken word en sy ongetwyfelde versuim om bevredigende antwoorde te verskaf moet aan ’n parlementêre ondersoek onderwerp word en die aanstelling van Ntlemeza moet ter syde gestel word,” het Kohler-Barnard gesê.
Die DA hou vol dat Ntlemeza se aanstelling aan waarnemende hoof van die Valke onwettig was aangesien die skorsing van sy voorganger, Anwa Dramat, ongrondwetlik was. Die Noord-Gautengse hooggeregshof en die konstitusionele hof het gelas dat die minister van polisie se besluit om Dramat te skors “onwettig” en “ongeldig” was en “ter syde gestel moet word”.
“Die portefeuljekomitee oor polisie kan nie die minister se gedrag, deur Ntlemeza eers onregmatig in ’n waarnemende hoedanigheid aan te stel en nou dit permanent te maak, ignoreer nie,” het Kohler-Barnard gesê.