Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Swaar vonnis vir reeksverkragter

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat skuldig bevind is daaraan dat hy ses vroue verkrag het, is Donderdag in die Durbanse streekshof gevonnis.

Aubrey Ndadane (41) is ses lewenslange vonnisse opgelê. Die hof het hom tot ʼn verdere 15 jaar tronkstraf gevonnis omdat hy vyf van sy slagoffers van hul selfone beroof het.

Landdros Wendolyn Robinson het gesê sy kon geen bewyse vind waarom die pa van twee minder as ses lewenslange vonnisse opgelê moet word nie. Die man het sy kop in sy hande gehou terwyl Robinson die vonnis gelewer het.

Hy het die ses vrouens tussen Januarie en Mei vanjaar verkrag nadat hy hulle gelok het met beloftes van moontlike werk. Nadat hy sy slagoffers verkrag het, het hy hulle aangesê om hulself te was met water wat hy in ʼn bottel by hom gedra het. Die verkragtings het in Clairwood, Wentworth en Montclair, almal buurte in die suide van Durban, plaasgevind.

Ndadane het verlede week in trane uitgebars toe hy skuld erken het op die aanklagte. Robinson het gesê hy het nie werklik berou nie, aangesien hy eers ingestem het om ʼn pleitooreenkoms met die staat aan te gaan nadat daar vir hom gesê is dat selfoonrekords hom met die slagoffers verbind. Sy het gesê die hof kon geen dwingende of wesenlike faktore vind om ʼn ligter vonnis op te lê nie.

“Jy het geen verduideliking vir jou vernietigende optrede nie,” het sy gesê. “Hierdie vrouens se lewens is duidelik op die ergste moontlike manier vernietig.” Sy het gesê die feit dat hy die pa van twee minderjarige kinders is, dien ook nie as versagtende omstandighede nie. “Jy is op geen manier ʼn rolmodel vir jou kinders of vir toekomstige generasies nie.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621