
Argieffoto
Brian Dube, woordvoerder van die departement van staatsveiligheid, het gesê die Suid-Afrikaanse agentskappe het inligting van die Amerikaanse regering af ontvang. “Ons moes toe ons eie ontleding doen. Ons kon nie ʼn geloofwaardige, onmiddellike dreigement identifiseer soos hulle aangevoer het nie,” het Dube gesê.
“Miskien is dit weens ʼn verskil in die protokol oor hoe dreigemente geïdentifiseer en geklassifiseer word.” Dube het gesê Suid-Afrika sal egter steeds met Amerikaanse agentskappe saamwerk om die oënskynlike bedreiging te evalueer. “Ons kan duidelik nie bekostig om oorgerus te wees nie, aangesien terrorisme ‘n wêreldwye verskynsel is.”
David Nahlobo, minister van staatsveiligheid het Woensdag aan 702 gesê Amerika het die Suid-Afrikaanse regering nie oor die presiese besonderhede van die dreigement ingelig nie. Anonieme bronne in die Suid-Afrikaanse intelligensiediens het glo gesê Amerika het inligting ontvang dat iemand met ʼn Suid-Afrikaanse paspoort glo ʼn lid is van ʼn gewelddadige Islamitiese groep soos IS, Al-Shabab of Boko Haram.
Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het Dinsdag gesê hy het inligting ontvang dat ekstremiste moontlik Amerikaanse belange in Suid-Afrika teiken. Die ambassade het in ʼn waarskuwing op sy webtuiste gesê die belange wat moontlik geteiken kan word, sluit in Amerikaanse regeringsfasiliteite en ander fasiliteite wat identifiseerbaar is met Amerikaanse sakebelange.
Cindy Harvey, woordvoerder van die ambassade, wou nie uitbrei oor die aard van die dreigement nie. Alle Amerikaanse ambassade-geboue is in 2009 vir drie dae gesluit ná ʼn terreurdreigement.