
Katelint da Costa
Nicole da Costa, Katelint se tannie, het gesê Katelint is Dinsdag oorlede. “Jy was ons vrolike blom wat net wou gee en niks teruggevra het nie. Jy is in ons harte en ons sal jou vir ewig liefhê. My skat liewe Jesus hou jou handjie nou styf vas en lei jou. Ons gaan jou so baie mis en so baie aan jou dink, en jou nooit ooit vergeet nie. Mag jy nou jou koppie sag neerlê voor liewe Jesus se voetjies. Jou liggie brand vir altyd in ons harte.”
Katelint en haar boetie Jayden (1) is albei ernstig beseer toe hul ouerhuis die naweek deur vlamme verswelg is en is sedertdien in die waakeenheid van die Mankweng-hospitaal in Polokwane behandel.
“Rus in vrede my engel, ek sal altyd lief wees vir jou my engel,” het Sibreena da Costa, Jayden en Katelint se ma, gesê. Sibreena het vroeër aan Maroela Media gesê sy het die aand omstreeks 22:00 wakkergeskrik en gesien die kamer was aan die brand. “My verloofde, Johan, het ʼn venster gebreek en in die proses by die venster uitgeval. Ek het my driejarige seuntjie, Douw, wat na aan die deur was, gegryp en by die kamer uitgegooi, net om hom uit die vlamme te kry. Toe ek omdraai was die hele kamer in vlamme gehul. Ek kan dit nie vir jou beskryf nie. Die vuur het soos blits oor alles versprei.”
Rafael da Costa, Katelint se oom, het gesê Katelint het met alles in haar baklei. “My hart is in miljoen stukke gebreek. Oom gaan jou so baie mis. Sien jou eendag weer my skat.”
Jayden se toestand is meer stabiel omdat hy minder brandwonde opgedoen het. Hy word egter onder verdowing gehou.