
Een van die verdagtes wat ontsnap het. Foto: SAPD
Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte is in Bertrams in hegtenis geneem ná ʼn wenk van die publiek.
Dlamini het vroeër gesê die drie mans het omstreeks 01:00 deur ʼn gat in die muur van hul sel ontsnap. “Die polisie het gesien hulle het ontsnap toe hulle die sel besoek het. Die polisie het bourommel in die sel ontdek en gesien daar is ʼn gat in die muur bo die toilet,” het hy gesê.
Die verdagtes het vermoedelik ʼn onbekende voorwerp gebruik om ʼn gat in die muur te maak waardeur hulle ontsnap het. Die drie, tussen 25 en 28 jaar oud, is aanvanklik in hegtenis geneem vir sakeroof, huisbraak en die besit van dagga.
Volgens Dlamini sal die verdagte wat weer in hegtenis geneem is, nou ook tereg staan op aanklagte van ontsnapping uit aanhouding wanneer hy Vrydag in die Germiston-landdroshof verskyn. Die polisie het nie onmiddellik bekend gemaak watter een van die drie verdagtes weer in hegtenis geneem is nie.
Die soektog na die ander twee verdagtes gaan voort.

