Natasha Mazzone, woordvoerder vir die Demokratiese Alliansie (DA), het in ʼn verklaring gesê Eskom se verslag oor sy finansiële prestasie vir die finansiële jaar 2014-’15 dui duidelik daarop dat die maatskappy in ʼn ernstige finansiële krisis is met sy inkomste wat van R7 miljard tot R3 miljard gedaal het. Die verslag het ook onthul dat die maatskappy R51 miljoen verkwis het op nuttelose besteding en in geheel grootliks misluk het om sy prestasieteikens te haal.
“Tog het Eskom steeds ʼn buitensporige R50 miljoen bestee aan bestuursbonusse in hierdie tydperk – met ʼn bykomende R10,8 miljoen wat uitbetaal is vir langtermyn-aansporingsbonusse. Dit kom neer op R1,4 miljoen per lid van die uitvoerende raad,” het Mazzone gesê. “Die huidige raad aan die stuur van hierdie sukkelende entiteit se prestasie is hopeloos. Dit is uiters ongegrond dat hulle hierdie buitensporige salaristjeks en bonusse ontvang.”
Volgens Mazzone sal die DA Dipuo Letsatsi-Duba, voorsitter van die openbare ondernemingsportefeulje-komitee, vra dat Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, en adjunkpres. Cyril Ramaphosa, voorsitter van die regering se energie-“gevegsfrontkamer” voor die komitee verskyn om ʼn volledige verduideliking te gee van Eskom se afname in inkomste en massiewe toename in uitgawes. “Dit is hulle wat verantwoordelikheid moet aanvaar vir die swak bestuur by Eskom,” het sy gesê.
Sy het beklemtoon dat Brown moet verduidelik hoekom sulke onaanvaarbaar hoë salarisse steeds betaal word en wat sy gaan doen om die salarisse af te bring tot ʼn meer aanvaarbare vlak.
Van die 37 prestasieteikens wat Eskom moes bereik, is slegs 51% bereik. Die teikens wat nie bereik is nie, sluit in ʼn kragbeskikbaarheidsfaktor van 80%, opwekkingskapasiteit van 433 MW wat geïnstalleer moes wees en die inhaal van die instandhoudingsagterstand.
“Dit is nou hoog tyd dat die probleem [van buitensporige bonusse] aangeraak word. Die huidige kragkrisis het die ekonomie tot ʼn stilstand gedwing en laat baie min hoop vir werklose Suid-Afrikaners om werk te kry,” het Mazzone gesê.