Agt bekende oudstudente van verskeie plaaslike universiteite het Sondag bekendgemaak dat hulle ʼn vereniging op die been sal bring ter behoud van Afrikaans in Suid-Afrikaanse universiteite.
Piet le Roux, een van die stigterslede en ʼn raadslid by die Universiteit Stellenbosch (US), het aan Maroela Media gesê daar is regoor die land ʼn georkestreerde aanslag op die onafhanklikheid en uitnemendheid van die voortreflikste Suid-Afrikaanse universiteite in die naam van “transformasie”. Dit het Le Roux en sewe ander sleutelrolspelers in hoër onderwys laat besluit om die Afrikaanse Alumni-vereniging te stig, om as spreekbuis te dien vir diegene wat die voortsetting van uitnemende Afrikaanse hoër onderwys nastreef.
Die ander stigterslede van die vereniging is prof. Hermann Giliomee (US), prof. Francois Venter (Noordwes Universiteit), Paul Colditz (Universiteit van die Vrystaat), prof. Annette Combrink (NWU), prof. Deon Geldenhuys (Universiteit van Pretoria), prof. Jacques van der Elst (Universiteit van KwaZulu-Natal) en dr. Dirk Hermann (NWU).
Volgens Le Roux word die aard van die transformasieprogram in universiteite nie grondwetlik gedefinieer nie, maar is dit duidelik dat daarmee beoog word om die invloed en rol van veral Afrikaanssprekende rolspelers in die hoër onderwyssektor te neutraliseer. Dit blyk ook dat die transformasie beoog om Afrikaanssprekende rolspelers deur ander persone te vervang met velkleur as bepalende kwalifikasie vir aanstelling.
“Transformasie het dus gedegenereer tot ’n program om rasgedrewe dominansie deur anneksasie te bewerkstellig. Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, dreig met ingryping indien “radikale transformasie” nie plaasvind nie,” het Le Roux gesê. “Ons is bekommerd oor staatsinmenging, transformasie en die viktimisering en afskaling van Afrikaans by ons universiteite en ons weier om te aanvaar dat Afrikaans en Afrikaanse studente in ’n staat van beskuldiging geplaas word.”
Hy het gesê die vereniging het ten doel om as spreekbuis te dien vir diegene wat die voortsetting van uitnemende Afrikaanse hoër onderwys nastreef. Vanaf Sondag sal oudstudente en ondersteuners op www.afrikaansealumni.co.za kan registreer dat hulle lid wil word, deur die stigtingskomitee se stigtingsvoorneme te ondersteun. Mense kan ook hul steun per SMS met die woord “student” na 34802 aandui. Die volledige stigtingsvoorneme kan op die webwerf gesien word.
“Die stigtingskomitee sal teen die einde van September ʼn aankondiging maak oor die hoeveelheid steun wat ons gekry het, asook oor die stigtingsfunksie van die Afrikaanse Alumni-vereniging,” het Le Roux gesê.