Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Wimpy-hawelose wat bid: ‘Die les was soveel meer’

$
0
0

Foto: Jacques Roelofse/Facebook

Foto: Jacques Roelofse/Facebook

ʼn Foto van ʼn hawelose man wat alleen in ʼn Wimpy in Hartbeespoort sit het, het só opslae op sosiale media gemaak dat donasies vir hom nou van regoor die land instroom.

Jacques Roelofse, ʼn pastoor van Waterval net buite Rustenburg, het Woensdag ʼn foto van die man op Facebook gedeel en dit het sedertdien soos ʼn veldbrand versprei. Roelofse het aan Maroela Media gesê hy kon aan die manier wat die man met die kelners gepraat het sien hy kom gereeld daar.

“Die man was net besig om ʼn glas water te drink, maar die kelner het my vertel hy kom al vir die afgelope paar jaar elke middag daarheen om ʼn koffie te drink wat die Wimpy-bestuur vir hom gee,” het hy gesê.

Volgens Roelofse het die kelner aan hom gesê dat die man haweloos is en in die veld bly. Hy het die kelner gevra om ʼn hamburger en skyfies vir die man te neem waarvoor hy sal betaal, maar nie aan die man te sê waar die kos vandaan kom nie.

“Ek het hom dopgehou en hy was aangenaam verras toe die kos voor hom neergesit word. Hy het die kelner bedank en breed geglimlag, voordat hy deur sy ou, verslete beursie gegaan het om die kelner ʼn fooitjie te gee. Die kelner het natuurlik die fooitjie van die hand gewys,” het hy vertel. “Daarna het hy sy bril afgehaal en gebid. Nie so ’n vinnige gebed wat net ʼn paar sekondes neem nie. Hy het langer as ʼn minuut gebid voordat hy sy kos geëet het.”

Roelofse het gesê dié mooi oomblik het hom net weer laat besef hoe maklik ʼn mens kwaad raak wanneer goed nie volgens eie wil verloop nie. “Hier was iemand wat alles verloor het, maak nie saak wat die rede daarvoor is nie, maar steeds God bedank en eer,” het hy gesê. “Hoe maklik vergeet ons nie om dit in ons eie lewens te doen nie? Die les wat hy my daardie dag geleer het, is baie meer werd as die R50 wat ek aan die kos bestee het.”

ʼn Ander Facebook-gebruiker het intussen ʼn bladsy geskep waar donasies vir die man ingesamel word. Talle mense het reeds op die blad kommentaar gelewer en gesê hulle wil graag vir die man geld skenk. Volgens die bladsy is hulle in die proses om ʼn volwaardige nie-winsgewende organisasie te skep waardeur geld ingesamel en bestuur sal word om die man te help. Besoek gerus die blad hier.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images