Arthur Lathleuff van Mfezi-veiligheidsdienste het gesê veiligheidsbeamptes het in samewerking met die polisie inligting van ʼn informant opgevolg en die verdagtes by hul huis ongeveer 6 km van die plaas af in hegtenis geneem. Van die gesteelde items is ook in hul besit gevind.
ʼn Vierde verdagte is egter steeds soek en ses vuurwapens wat gedurende die aanval gesteel is, moet nog teruggevind word.
Maroela Media het Woensdag berig dat Ricky Dinkelman en sy vrou Dinsdagmiddag deur vier verdagtes op hul plaas oorval en aangerand is. Agt vuurwapens, kontant, juweliersware, ʼn videokamera en ander items is tydens die aanval gesteel.
Veiligheidsbeamptes en sowat 15 boere van die omgewing het met behulp van snuffelhonde die aanvallers agterna gesit en drie vuurwapens op die spoor opgetel. Twee vuurwapens was van dié wat uit Dinkelman se kluis gesteel is, terwyl die derde ʼn maand vantevore tydens ʼn ander plaasaanval gesteel is.
ʼn Woordvoerder van die polisie kon Donderdagoggend nie dadelik bevestig dat die verdagtes in hegtenis geneem is nie. Maroela Media wag vir kommentaar.