
Argieffoto
Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê drie van die verdagtes is in Hercules, Pretoria, in hegtenis geneem terwyl die ander verdagte in Kaapstad vasgetrek is. Volgens Naidoo is die Kaapse verdagte, ʼn 47-jarige makelaar, tans in aanhouding by die Vishoek-polisiestasie. Hy sal na verwagting Donderdag in die Simonstad-landdroshof verskyn.
Die verdagtes van Pretoria, twee mans en ʼn vrou tussen 41 en 56 jaar, het Woensdag al in die Pretoriase landdroshof verskyn. Die saak is tot Vrydag uitgestel wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.
Volgens Naidoo is die verdagte se vermeende betrokkenheid by kinderpornografie deur die owerheid in Antwerpen, België, onder die Suid-Afrikaanse polisie se aandag gebring. Dit het gevolg nadat die Belgiese owerheid een van hul burgers in hegtenis geneem het vir die vervaardiging en besit van kinderpornografie. Die verdagte het glo 219 kontakte in sy gebruikerrekeninge gehad.
Die verdagte is reeds in Oktober 2014 in hegtenis geneem en die ondersoek deur die Belgiese owerheid het hulle in die rigting van Suid-Afrika gestuur. Die polisie het tydens die inhegtenisnemings in Pretoria en Kaapstad op ses selfone, vier rekenaars, ʼn skootrekenaar en drie geheuestokkies beslag gelê.
Naidoo het gesê hulle verwag om nog mense in die nabye toekoms in hegtenis te neem.