
Argieffoto
Elizabeth Webster, ʼn weervoorspeller, het gesê die huidige kouer toestande is weens ʼn kouefront wat tans oor die land beweeg. Sy het gesê dit sal moontlik Vrydag en Saterdag bewolk wees in dele van Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga. Vir Musina in Limpopo word Vrydag ʼn minimumtemperatuur van 13 °C en ʼn maksimum van 23 °C voorspel. In Pretoria sal dit Saterdag na verwagting 7 °C en 21 °C wees met die moontlik van verspreide donderbuie.
Volgens Webster sal nog ʼn kouefront Maandag in die Kaap aankom, maar sal dit warmer word in die noordoostelike dele van die land. Kaapstad se verwagte temperature Maandag is 13 °C en 16 °C. Vir Richardsbaai in KwaZulu-Natal word Maandag ʼn maksimumtemperatuur van 30 °C voorspel terwyl ʼn maksimumtemperatuur van 19 °C vir Springbok in die Noord-Kaap voorspel word. Volgens Webster is dit moeilik om in dié stadium te bepaal of daar nog erge koue kom voordat die somer behoorlik aanbreek.
Cobus Olivier, ook ʼn weervoorspeller, het intussen gesê vir Oktober, November en Desember word daar onder normale reënval en bó normale temperature vir die land voorspel. Volgens die Weerdiens word daar egter voor Oktober reën verwag.