Premier Supra Mahumapelo het Woensdag bekendgemaak dat daar 36 000 “spookwerknemers” in die Noordwes-regering is. Hierdie werkers word ʼn salaris betaal en ontvang al die betrokke voordele, maar verrig geen werk nie.
Chris Hattingh, DA LP, het gesê die regering het in 2008 glo miljoene rande aan konsultante bestee om ʼn stelsel te ontwikkel wat die probleem van “spookwerkers” uitskakel. “Nou, sewe jaar later, was dit blykbaar ʼn nuttelose oefening en ʼn mors van belastingbetalers se geld,” het Hattingh gesê.
Die Congress of the People (Cope) het hom ook teen sterkste uitgespreek teen hierdie skoksyfer wat dié party die “skandaal van die eeu” noem. “Dit is onverstaanbaar hoe Noordwes kan toelaat dat 73% van sy begroting bestee word om salarisse te betaal. Hoekom het die wetgewer nie vrae gevra oor die buitensporige toedeling van hulpbronne aan salarisse nie? Eiebelang het heel eenvoudig geseëvier oor openbare belang,” het die party in ʼn verklaring gesê.
Hattingh het bygevoeg dat die reuse-hoeveelheid spookwerkers daarop dui dat die regering mense aanstel ongeag hul vaardighede, kwalifikasies, vermoë of ervaring om ʼn diens aan die inwoners van Noordwes te lewer, maar eerder bloot om vriende gelukkig te hou.
“Die DA sal vra dat die premier die uitkomste van die 2008-program om van spookwerkers ontslae te raak uiteensit, sodat die miljoen rande wat op hierdie duidelik mislukte ingryping spandeer is, bevraagteken kan word,” het Hattingh gesê. “Die premier moet ook ʼn nuwe plan aan die wetgewer voorlê om van spookwerkers in die provinsiale regering ontslae te raak.”
Cope het ʼn beroep op die Valke gedoen om die saak te ondersoek aangesien dit “duidelik ʼn saak vir spesialis-polisie is”.
Die woordvoerder van die Noordwes-regering was Woensdagmiddag glo in ʼn vergadering en kon nie vir kommentaar bereik word nie.