Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie mans het omstreeks 01:00 deur ʼn gat in die muur van hul sel ontsnap. “Die polisie het gesien hulle het ontsnap toe hulle die sel besoek het. Die polisie het bourommel in die sel ontdek en gesien daar is ʼn gat in die muur bo die toilet,” het hy gesê.
Die verdagtes het vermoedelik ʼn onbekende voorwerp gebruik om ʼn gat in die muur te maak waardeur hulle ontsnap het. Die drie, tussen 25 en 28 jaar oud, is in hegtenis geneem vir sakeroof, huisbraak en die besit van dagga.
Dlamini het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet waar die gevangenes hulle bevind om met hul naaste polisiestasie in verbinding te tree. “Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om nie hierdie verdagtes te konfronteer as hulle gesien word nie, aangesien hulle gevaarlik kan wees,” het hy gesê.

