Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die 17-jarige Su-Márie Lombard enkele meter van die gewapende mans verbystap sonder dat sy dit weet. Oomblikke later is een van die vermeende aanvallers met ʼn vuurwapen in sy hand agter haar aan.
Desire Lombard het aan Maroela Media gesê sy en haar gesin woon op ʼn plaas 10 km buite Tzaneen. Sy het die Sondagaand omstreeks 19:50 in die bed geklim. Haar man was uit om te gaan jag op die plaas. “Su-Márie het die hond buite hoor blaf en het die haelgeweer saamgeneem om ondersoek in te stel,” het sy gesê. “Ons albei weet ons mag glad nie uit die huis uit gaan as my man nie daar is nie, maar ek het nie geweet sy gaan uit nie.”
Op die video kan gesien word hoe die vermeende aanvallers by die stoep-area van die huis insluip en in die waskamer skuil. Die gesin se hond, ʼn sewe maande oue Amerikaanse veghond, kom later in en gewaar die mans in die waskamer. Hy staan ʼn ruk lank voor die deur en blaf, maar is oënskynlik te bang om hulle te storm.
Minute later kom Su-Márie om die hoek gestap met ʼn haelgeweer in haar hande. Sy loer versigtig in die toegeboude stoep rond, maar kan nie die mans sien wat agter die waskamer se deur skuil nie. Sy stap weer saam met die hond uit terug na die huis voordat een van die vermeende rowers agter haar aangehardloop kom.
“Su-Márie het in die huis ingehardloop en die veiligheidshek gesluit,” het Desire gesê. “Sy het my kom wakker maak en ek het die haelgeweer gegryp.” Desire het waarskuwingskote by die veiligheidshek uitgevuur terwyl Su-Márie haar pa gebel het om terug te kom huis toe. Een van die vermeende aanvallers het na die veiligheidshek gehardloop en dit probeer oopruk, voordat hy op die vlug geslaan het.
“Ek weet nie of hy gehoor het hoe my man aangery kom of wat nie, maar hulle het almal net skielik weggehardloop. Ons het ʼn saak van poging tot huisroof by die polisie aanhangig gemaak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.”
Volgens Desire is hulle baie dankbaar dat Su-Márie niks oorgekom het nie, maar voel hulle ook bly dat hulle in só ’n situasie kon kophou. “Ons weet nou beter hoe ons so iets in die toekoms sal hanteer,” het sy gesê. “Ons het nog veiligheidskameras aangebring en kyk na ander opsies om ons eiendom meer te beveilig. Ons gesin was egter nog altyd baie paraat en baie bewus van ons veiligheid.”
Marius Jacobs van Watchdog Tzaneen het die beeldmateriaal van die voorval aan Maroela Media verskaf. Maroela Media het die spoed van die beeldmateriaal op sommige dele versnel vir die doeleindes van publikasie.