Maroela Media het Woensdag berig twee ouers is in hegtenis geneem nadat die ma na bewering geweier het om die besoekersregister te teken en toe ʼn vuurwapen op ʼn veiligheidswag gerig het. ʼn Ooggetuie het egter beweer die ouers het ʼn klaskamer besoek toe ʼn beampte van die onderwysdepartement opgedaag het en die pa gestamp het. Dit het glo die onderonsie laat ontstaan.
Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, het hierdie weergawe van die gebeure ontken. “Die egpaar het die skool besoek en aangedring om die skoolhoof te sien. Hulle het geweier om die besoekersregister te teken of deur die veiligheidswagte deursoek te word. Die veiligheidswag het hulle toe na die skoolhoof se kantoor vergesel, maar op pad na die kantoor het die egpaar besluit om eerder ʼn klaskamer te besoek. Dít is toe die onderonsie ontstaan het,” het Sekhonyane gesê.
“Tydens die struweling het die vrou ʼn vuurwapen uitgepluk en op die veiligheidswag gerig. Die polisie is ontbied en die egpaar is op die plek in hegtenis geneem.”
Sekhonyane het gesê die departement se distriksbeampte was wel op die skoolterrein gedurende die voorval, maar nie self daarby betrokke nie.
Sy het verduidelik dat die departement die veiligheidswagte op die terrein geplaas het na aanleiding van die gewelddadige gebeure die afgelope paar maande by die skool. In die mees onlangse voorval is die adjunkhoof se motor Maandag met ʼn petrolbom gegooi.
Sy het egter ontken dat die veiligheidswagte met gewere tussen die kinders rondloop en dat sommige kinders bang is om skool by te woon. “Die gewapende veiligheidswagte se vuurwapens is weggesteek. Dit is daarom nie waar dat hulle op die skoolterrein rondloop en hul wapens aan die leerders ontbloot nie,” het sy gesê.
Die ouer-egpaar wat in hegtenis geneem is, sou Woensdag in die Roodepoort-landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding, die rig van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.