
Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook
Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), het vanmiddag aangekondig dat hy studentebelangegroepe om ʼn tafel byeen wil kry vir ʼn reeks gesprekke oor die toekoms van die universiteit.
“Hierdie gesprekke is ʼn poging om studente op ʼn wye vlak te bereik oor al drie die kampusse om te gesels oor temas soos ras, taal, sport, die studentelewe en maatskaplike samehorigheid onder die vaandel van ‘Ons is die NWU’”, het prof. Johannes Froneman, Kgwadi se woordvoerder, gesê.
Volgens Froneman is die onlangse protesaksie by die institusionele kantoor van die NWU net een van die aspekte wat aanleiding gegee het tot die beplande gesprekke met die studente van die kampusse.
“Kgwadi loop al ʼn geruime tyd met die gedagte om ʼn dialoog tussen die studente van die kampusse te begin. Ons kry elke dag kommentaar van verskillende oorde wat ʼn mens laat besef daar is vrees, terwyl sommige mense selfs kwaad is en daar is baie onduidelikhede oor die toekoms van die universiteit onder die verskillende belangegroepe. ʼn Insident soos die protesaksie het ons opnuut laat besef dat daar erns gemaak moet word met hierdie gesprekke,” het Froneman gesê.
Volgens Froneman wou hulle net wag dat die nuwe studenterade en huiskomitees van die koshuise aangewys en die strategiese hersieningsdokument ingehandig word, voordat hulle afskop met die gesprekreeks.
“Ons sal binne die volgende week ʼn datum vir die eerste gesprek vasmaak. Hierdie gesprekke sal gestruktureer wees en ons sal dit selfs oorweeg om die gesprekke weg van die kampusse te hou sodat die studente mekaar ook in ʼn ontspanne, neutrale omgewing kan ontmoet,” het Froneman verder gesê.
Volgens Kgwadi is daar baie aktiwiteite wat op die kampusse plaasvind wat positief is en aangemoedig moet word. “Hoewel die studentelewe op die drie kampusse in ʼn mate mag verskil, wil alle studente ʼn veilige, lewendige studentelewe hê waar menswaardigheid, die beskerming van hul regte en die nakom van verantwoordelikhede deel is van hul alledaagse ervaring.”
Kgwadi het ʼn beroep op die studente gedoen om oor hul vrese en ervarings te praat en gevra dat studente die moeite moet doen om mekaar beter te leer ken. “So maak ons die universiteit ʼn baken van hoop,” het hy bygevoeg.
Froneman het verder gesê die gesprekke se formaat mag verskil, maar dit sal ʼn deurlopende proses wees. “Ek hoop dit word ʼn institusionele aksie, want studenterade en -organisasie word elke drie tot vier jaar heeltemal hernu. Ons sal die gesprekke hou vir solank as wat dit nodig is. Ons is tans in ʼn kritiese fase van die NWU se geskiedenis en hierdie is ʼn poging om nie net die studente in bestuursposisies van die studentlewe byeen te bring vir gesprekke nie, maar ook om die stem van die stille meerderheid studente te betrek.”