
Foto: Twitter
Die ANC-jeugliga in die Wes-Kaap het Maandag sy ontevredenheid uitgespreek oor uitlatings deur die studente-beweging, “Rhodes Must Fall” (RMF), wat Marikana en die land se leiers betref.
“Indien jy aanvoer dat jy die struggle van die massas verteenwoordig, kan jy nie die leiers minag of onmin saai nie,” het Muhammad Khalid Sayed, provinsiale voorsitter, gesê.
Sayed het verwys na uitlatings deur die RMF-veldtog dat pres. Jacob Zuma en adjunkpres. Cyril Ramaphosa medepligtig was in die moord van die Marikana-myners. “Ons het hulle [RMF] genader en gesê hulle moet bewyse gee,” het hy gesê. “Daar is geen hof wat bewys het dat ons twee leiers skuldig is aan moord nie.”
Die res van die ANC-jeugliga se provinsiale uitvoerende komitee het ook gesê hulle ondersteun Zuma en Ramaphosa ten volle en indien daar bloed op hulle hande is, is dit “van die begrafnis van kamerade wat deur die apartheidsregering vermoor is”.
Sayed het gesê die jeugliga in die Wes-Kaap het dit van die begin af duidelik gestel dat hul ondersteuning vir RMF beperkings het. “Ons identifiseer nie met dit wat die veldtog geword het nie en ons het teen die stigting van die RMF gewaarsku omdat die veldtog uitsluiting sou veroorsaak.” Hy het gesê die jeugliga ondersteun die stryd teen diskriminasie en ongelykheid wat deur studente op ʼn tersiêre vlak beleef word en belyn nie homself met enige beweging of organisasie nie.
Hy het bygevoeg die jeugliga neem met misnoeë kennis van bewerings van rassisme by Universiteit Stellenbosch wat in die dokumentêr, Luister, aan die lig gekom het. Luister is vroeër in Augustus deur die studentebeweging, Open Stellenbosch, op sosiale media gepubliseer en meer as 30 studente het aangevoer hulle is slagoffers van rassisme op die kampus. “Ons sal nie huiwer om persone te verdedig wat diskriminasie beleef nie,” het Sayed bygevoeg.