ʼn Politieke party, Agency for New Agenda (ANA), voorheen bekend as South Africa First, het die hofaansoek ingedien. Die aansoek is gegrond op ʼn tekort aan transformasie in die sport omdat hulle beweer rugby word steeds deur wit mense oorheers en die Springbokspan verteenwoordig nie die meerderheid van Suid-Afrikaners nie.
Die respondente in die saak is die minister van sport en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU). ANA het ook aan die Internasionale Rugbyunie (IRA) geskryf en versoek dat Suid-Afrika geskors word.
In die hofstukke skryf ANA hoewel daar al baie in die afgelope 21 jaar bereik is om transformasie in die land teweeg te bring, is dit “algemene kennis dat sommige landsburgers sulke transformasie teenstaan en voortgaan met aktiwiteite en optrede gebaseer op onregverdige diskriminasie volgens ʼn aantal kriteria, insluitend ras”.
ANA het gesê dit is betreurenswaardig dat daar steeds ná 21 jaar van demokrasie “rassediskriminasie en rasse-uitsluiting in transformasie bestaan” wat tot groot mate die lot van die meerderheid van die land se swart bevolking bepaal. Die party beweer dat rassediskriminasie in geen veld so duidelik is soos in rugby nie.
In die brief aan die IRA beweer die party Suid-Afrikaanse rugby “was en is steeds ʼn witman-sportsoort, wat die meerderheid van die swart bevolking uitsluit en marginaliseer”. “Ons doen ʼn beroep [op die IRA] om onmiddellik Suid-Afrika se lidmaatskap aan jul organisasie op te skort en Suid-Afrika te verban om aan die 2015-Rugbywêreldbeker deel te neem.”