Maj. Thulani Zwane, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het omstreeks 01:45 by ʼn huis in Karrideneweg in Amanzimtoti plaasgevind. Die 30-jarige man word sedertdien deur die polisie gesoek.
“Die man en sy 33-jarige vrou het glo baklei toe hy twee handgranate na haar toe gegooi het. Een het ontplof en die vrou het ernstige beserings opgedoen,” het Zwane gesê. Die vrou is deur paramedici na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar sy dood is.
Volgens Zwane het die man van die toneel af gevlug en is die polisie steeds op soek na hom. Hy kon nie in hierdie stadium die naam van die vrou bekendmaak nie, aangesien al haar familielede nog nie oor haar dood ingelig is nie. Hy het aan Maroela Media gesê dit is nog onduidelik hoe die man handgranate in die hande gekry het, maar dit sal deel vorm van die ondersoek.
Zwane het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet waar die man hom bevind om die Amanzimtoti-polisiestasie by 031 913 1308 of Crime Stop by 08600 10111 in kennis te stel.