Maimane het gedurende sy besoek aan Potchefstroom in Noordwes gesê die party het vyf plaaslike regerings geteiken waar hy glo hy ʼn goeie kans het om óf sy voorsprong te vergroot óf by die ANC oor te neem.
“Die meeste praat oor Kaapstad, Nelson Mandelabaai, Tshwane en Johannesburg. Maar ʼn vyfde munisipaliteit waarvoor ons mik, is hierdie einste munisipaliteit hier in Tlokwe,” het hy aan die skare in Potchefstroom gesê. Hy het bygevoeg dat die DA die ANC verlede jaar in Nelson Mandelabaai en Tshwane onder 50% gedruk het en in Johannesburg die regerende party baie naby aan 50% gebring het. “En natuurlik hier in Tlokwe, waar hulle daarin kon slaag om slegs 51,8% van die stemme te kry – ʼn volle 20% minder as in 2004.”
Maimane het gesê die ANC se mees onlangse poging om te verhoed dat hy Tlokwe verloor, behels planne om die munisipale grense van die stad te verander om sodoende die DA se ondersteuning te verminder.
“Hul voorgestelde planne om die munisipaliteite van Tlokwe en Ventersdorp saam te smelt, het slegs een doel voor oë en dit is om die DA se oorwinning in Tlokwe te verhoed.” Hy het gesê die DA sal die planne vir samesmelting ten sterkste teenstaan.