
Argieffoto
ʼn Ma en kind het Donderdag in die vroeë oggendure in ʼn huisbrand op ʼn plaas in Limpopo gesterf.
Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het gesê ʼn gesin van drie mense was in die huis buite Letsitele toe die brand ontstaan het. “ʼn Omstander het die brand gesien en in die huis gegaan om te help,” het Rossouw gesê. “Die ma en haar kind het weens die brand omgekom. Die man wat in die huis was, asook die man wat probeer help het, het onderskeidelik ernstige tot matige beserings opgedoen.”
Rossouw het aan Maroela Media verduidelik die brand het op ʼn gedeelte van die plaas uitgebreek waar plaaswerkers in ʼn klein gemeenskap bly. “Die brand het nie na ander huise versprei nie.”
Die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en na die Letaba- provinsiale hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Inligting oor die ouderdom van die ma en haar kind was nie dadelik beskikbaar nie. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Die Limpopo-polisie is op die toneel om die voorval te ondersoek.