
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, het Dinsdagmiddag aangekondig haakplekke, wat die departement van onderwys met die aanlynregistrasieproses ervaar het, is uitgestryk.
Die aanlynregistrasieproses, wat Dinsdag om 08:00 moes afskop, is vroeër tot 10:00 uitgestel, maar was teen 13:00 steeds buite werking. Die departement het in ʼn verklaring gesê die uitstel was nodig weens ʼn “tegniese fout”.
Lesufi het tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg gesê die stelsel is teen 09:30 herprogrammeer en was reg om teen 13:00 gebruik te word. Hy het tydens die konferensie die stelsel laat aktiveer en teen 14:30 bekend gemaak die stelsel werk amptelik. Hoewel die webwerf, www.gdeadmissions.gov.za stadig reageer, verskyn daar nie meer ʼn foutboodskap soos voorheen nie. Talle Twitter-gebruikers het egter beweer hulle kry steeds ‘n foutboodskap.
Die departement het op sy Twitter-rekening bevestig 5 035 ouers of voogde het suksesvol geregistreer in die eerste 10 minute vandat die webwerf begin werk het.
Lesufi het gesê die kapasiteit van die bedieners is vermeerder om 20 000 ouers of voogde per sekonde te hanteer. Hy het ook tydens die geleentheid om verskoning gevra vir die ongerief.
Hy het bygevoeg die stelsel sal nie meer, soos beplan, die mense wat eerste registreer voorkeur gee nie, maar terugkeer na twee waglyste wat voorkeur sal gee volgens die aansoekers se woonadresse. “Ouers hoef egter dus nie meer haastig te wees om die stelsel te gebruik nie,” het hy gesê.
“Gauteng is die eerste provinsie wat die stelsel gebruik en ons het geen berou daaroor nie. Dit sal leerders gelyke toegang tot skole gee. Die frustrasie mag erg wees, maar die toekoms lyk helder.”
Die aanlynregistrasieproses is van stapel gestuur om aansoekprobleme met registrasie vir 2017 te probeer verhoed, nadat leerders weens laat aansoeke nie vanjaar plek in sommige skole kon kry nie. Die registrasieproses is gerig op graad 1- en graad 8-leerders by staatskole.
Ouers of voogde wat nie toegang tot die internet het nie, kan 0800 000 789 bel om te hoor waar hul naaste hulpsentrums is om te registreer.
Lees die vorige berigte oor die aanlynregistrasieproses op Maroela Media.