
Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het gesê die 36-jarige man en sy vrou is van mekaar vervreem en hul drie kinders bring meestal naweke deur by hul pa by sy huis in ʼn informele nedersetting buite die dorp. Die ma sal gewoonlik die kinders weer die Sondag by die pa se huis kom haal, waarna die gesin eers iets saam sal gaan eet, het Mohlala verduidelik.
“Saterdag het die pa ʼn kombuismes gevat en glo sy 11-jarige seun en sewejarige dogter se kele afgesny. Hy het glo hierna hulle liggame op ʼn bed in die huis gesit en gaan slaap. Die derde kind, ʼn vierjarige seuntjie, was ook nog in die huis,” het hy gesê.
Volgens Mohlala het die man ná sy inhegtenisneming glo aan die polisie erken dat sy plan was om Sondag die ma in die huis in te lok waar hy haar en die vierjarige ook sou vermoor. Hy was glo kwaad omdat die ma saam met ʼn ander man, met wie sy ʼn romantiese verhouding het, woon.
Die ma wou egter nie die Sondag na die pa se huis gaan nie en hy het haar telkemale gebel en aangedring dat sy moet kom. Die ma het onraad vermoed en die polisie in kennis gestel. Die pa is kort daarna by sy huis in hegtenis geneem.
“Die polisiebeamptes kon sien dat die kinders al die Saterdag vermoor is, omdat die bloed op die bed reeds droog geword het,” het Mohlala gesê. “Die manier waarop die man verduidelik het hoe hy glo sy kinders vermoor het, is baie brutaal. Daar sal ondersoek word of die man moontlik aan ʼn geestesversteuring ly.” Die vierjarige is tydelik in die sorg van sy ouma en oupa geplaas.
Die man sal op twee aanklagte van moord verskyn.