Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Wat as daar nié aardbewings was?

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Argieffoto

Twee wêrelddele is pas deur sterk aardbewings getref, en dadelik was daar die gebruiklike lesersreaksies dat dit tekens van die eindtye is. Dit is egter nodig dat aardbewings teen die groter prentjie beoordeel moet word.

“Dis ’n teken van die eindtye,” skryf lesers gereeld in hul leserskommentaar op berigte oor aardbewings, veral groot aardbewings. So was dit ook nou nadat groot aardbewings eers Japan en toe Ecuador getref het en wat talle mense dood, vermis en beseer gelaat het.

In werklikheid is daar jaarliks meer as ’n miljoen aardbewings en -trillings wêreldwyd. Baie hiervan is te gering om gevoel te word, maar word tog deur instrumente geregistreer.

Dit is egter die groot aardbewings wat die verbeelding aangryp. Normaalweg word aardbewings van 7 of meer op die momentmagnitudeskaal as groot aardbewings beskou, maar faktore soos afstand, diepte, gehalte bouwerk, bodemformasie en ander kan maak dat veel swakker aardbewings veel groter skade kan aanrig as die grotes. Die aardbewing wat Christchurch in Nieu-Seeland in puin gelê het, was byvoorbeeld volgens die “7-norm” nie ’n grote nie, maar die gevolge vertel ’n ander verhaal. Dit gebeur uiters selde dat ’n aardbewing van minder as 7 ’n tsoenami veroorsaak, hoewel verskeie faktore soos die hardheid van die bodem en die diepte saam met die sterkte bepaal of daar ’n tsoenami sal wees.

Deur  die jare is verskillende skale gebruik om die sterkte van aardbewings te meet, waarvan die Richterskaal, en in ’n mindere mate die Mercalli-skaal die bekendstes was en veral die Richterskaal in die volksmond en skoolboeke voortleef. Weens gebreke met die Richterskaal om veral baie sterk aardbewings te meet, het die Amerikaanse sentrum vir geologiese opnames (USGS) die momentmagnitudeskaal ontwikkel. Dit is veral doeltreffender om aardbewings te meet wat op die aarde se groot verskuiwingsvlakke voorkom, juis daar waar byna al die grotes voorkom.

Enkele lande, waaronder Suid-Afrika, gebruik egter nog die Richterskaal, hoewel Suid-Afrika ook reeds ’n aangepaste Richterskaal gebruik wat weer in die proses van aanpassing is. Dit lei tot ’n Babelse verwarring in die media wat baie dikwels lesings wat op die momentmagnitudeskaal gemeet is, uitdruk as sou dit in die Richterskaal gemeet gewees het. Omdat die verskillende skale verskillende aspekte meet, kan die een ook nie, soos geldeenhede, na die ander omgereken word nie. Boonop gebruik Japan en Taiwan die shindo-skaal, wat ooreenkomste met die Mercalli-skaal het. Met die onlangse groot aardbewings in Japan het die USGS, wat aardbewings wêreldwyd meet, byvoorbeeld die grote se sterkte as 7 aangedui. Die Japanse meteorologiese agentskap het dit as 7,3 aangedui, wat in die hande van die media gou as 7,3 op die Richterskaal uitgedruk is – wat natuurlik nie akkuraat is nie.

Omdat die USGS aardbewings wêreldwyd meet, gebruik ernstige waarnemers van aardbewings die momentmagnitudeskaal, ook akademici in Suid-Afrika. Die aardbewings word grafies wêreldwyd op die webwerf hier bygehou. Vir die VSA en onderhorige gebiede word alle aardbewings van sterker as 2,5 aangedui; vir die res van die wêreld sterker as 4,5. Wanneer ’n aardbewing in Suid-Afrika voorkom, sal die media gewoonlik dit in Richterskaal uitdruk, hoewel die momentmagnitudeskaal ook beskikbaar is as dit sterker is as 4,5.

Hoewel aardbewings soms enorme skade aanrig en selfs, veral as dit met ’n tsoenami gepaard gaan, honderde duisende lewens kan eis, sou die aarde waarskynlik in ’n veel slegter toestand gewees het as aardbewings nié op die manier waarop dit geskied, voorgekom het nie.

Kontinentale drywing, wat die meeste groot aardbewings langs die aarde se groot verskuiwingsvlakke tot gevolg het, is weer die gevolg van konveksiestrome onder die aardoppervlak. Hierdie konveksiestrome wek die energie vir die aarde se magneetveld op. Die afwesigheid van ’n magneetveld soos op die maan, of selfs ’n beduidende magneetveld soos op Mars, laat die atmosfeer blootgestel en word deur die sonwind weggewaai. Dit beskerm saam met die atmosfeer en veral die osoonlaag, lewe op aarde teen skadelike kosmiese bestraling. Een van die redes waarom ’n bemande ruimtereis na Mars so moeilik is, is omdat die ruimtemanne binne die ruimtetuig genoegsaam beskerm moet word teen die blootstelling aan kosmiese bestraling. Die reis na Mars sal sowat ses maande duur, en weer ses maande terug. Die internasionale ruimtestasie wentel so laag as moontlik om die aarde sodat dit deurlopend deur die atmosfeer gerem word, en periodiek weer ’n vuurpyl-hupstoot moet kry om in sy wentelbaan te bly, alles sodat die tuig soveel as moontlik die beskerming van die magneetveld kan geniet.

Die meganisme van kontinentale drywing verhinder ook dat groot ruimtes onder die harde aardoppervlak ontstaan wanneer die bodem daaronder oor tyd weens afkoeling krimp en wegsak. Studies van die maanoppervlak en dié van Mercurius toon dat enorme gebiede weggesak het nadat die “dak” van hierdie ruimtes ingegee het. So iets op aarde sou selfs die grootste aardbewings soos ons dit ken, na nietighede laat lyk.

Dit alles dui op die wonder van die skepping en gee ’n klein kykie van wat alles op die aarde in reg moes wees om dit bewoonbaar te maak. Voorts is die groot gevaargebiede vir aardbewings bekend, en hoewel dit meestal onder die see is, woon miljoene mense in gevaargebiede. Dit plaas ’n groot onus op argitektuur, bou-ingenieurswese en noodmaatreëls, want almal wat op of naby ’n verskuiwingsvlak woon, weet dat die grote die een of ander tyd gaan kom.

Suid-Afrika word op ’n afstand van sowat 2 000 kilometer van die kus deur sulke verskuiwingsvlakke begrens, en redelike groot aardbewings kom gereeld daar voor.

Op land is kleiner verskuiwingsvlakke soos dié by Ceres en van Kaapstad noordwaarts wat reeds redelike groot aardbewings veroorsaak het. Die kanse is egter gering dat die land ’n werklike groot aardbewing sal beleef.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!