
ʼn 36-jarige beampte van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) is in ʼn kritieke toestand in die Millpark-hospitaal nadat hy Maandag tydens ʼn wilde jaagtog twee keer in die kop geskiet is.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, het Dinsdag aan Maroela Media gesê JMPD-beamptes het op die Goue Hoofweg naby Vlakfontein motors vir spoedoortredings van die pad afgetrek.
“ʼn Beampte het die bestuurder van ʼn Volvo wat te vinnig gery het van die pad afgetrek,” het Minnaar gesê. “Daar was ses insittendes. Die beampte het gesien die mans was gewapen en het hulp ontbied toe die Volvo van die toneel weggejaag het.”
Die beamptes het die voertuig agternagesit en oor die radio bystand van die polisie en metropolisie ontbied. Tydens die wilde jaagtog het die verdagtes vanuit die Volvo op die metropolisie geskiet. Die metropolisiebeamptes het teruggeskiet. Die een beampte is tydens die jaagtog twee keer in die kop getref terwyl hy in die voertuig was.
Minnaar het gesê die beampte is met ʼn SAPD-helikopter na die hospitaal geneem. Hy het Maandagaand ʼn operasie ondergaan en is steeds in ʼn kritieke toestand.
Die verdagtes het later in die Vlakfontein-informele nedersetting te voet probeer vlug.
Drie van hulle is in hegtenis geneem. Drie verdagtes is steeds soek. Die polisie het op twee onwettige vuurwapens beslag gelê.
Minnaar het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.