Twee mans is in hegtenis geneem nadat daar op dwelms met ʼn straatwaarde van nagenoeg R80 miljoen beslag gelê is by die Kopfontein-grenspos naby Zeerust in Noordwes.
Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is ʼn vragmotor Saterdagmiddag by die grenspos deursoek.
Snuffelhonde het alarm gemaak en daar is 141 pakkies Mandrax in versteekte kompartemente gevind. “Daar is beslag gelê op altesaam 1 428 140 tablette ter waarde van R78 547 700.”
Kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê twee mans, onderskeidelik 42 en 37 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die verdagtes is van Tanzanië en Zambië afkomstig.
“Die Valke ondersoek die saak en die verdagtes sal binnekort in die Zeerust-landdroshof verskyn,” het Mokgwabone gesê.