ʼn Paartjie van Pretoria oorweeg regstappe teen ʼn bekende kitskosgroep nadat hulle albei Dinsdagaand erg in een van die groep se restaurante aangerand is.
Chantal Beyers (27) en haar verloofde, James Brewer (50), eienaar van die gewilde Brewers-restaurantgroep, se gesigte is albei potblou geslaan nadat hulle glo deur ʼn groep mans en vroue in die McDonald’s-restaurant in Hamiltonstraat oorval is.
Chantal het Donderdag aan Maroela Media vertel dat sy en James laat die aand by die restaurant aangekom het nadat hulle laat gewerk het. Hulle wou aanvanklik die deurry-baan gebruik, maar dit was met kratte toegepak. Hulle het dus parkeer en binne die restaurant hul bestelling gaan plaas.
Nadat hulle die bestelling ontvang het, het hulle by een van die tafels in die restaurant gaan sit, maar toe besef dat hulle een van die items nie ontvang het nie. “James het teruggestap na die toonbank toe en die kassiere gevra oor die wrap wat ons nie gekry het nie. Sy het met hom gestry en gesê ons het dit nooit bestel nie,” het Chantal gesê. “Terwyl hy nog met haar gepraat het, het sy iets aan ʼn man langs hom gesê in ʼn taal wat hy nie verstaan het nie. Die volgende oomblik het die man hom herhaaldelik met die skouer gestamp.”
Volgens Chantal het sy gesien hier kom moeilikheid en het tussenbeide getree. “Ek het vir die man gesê dat ons nie moeilikheid wil hê nie en dat ons in elk geval op pad is. Ek het my een hand op James gesit en wou met die ander hand net so aan die man vat om hulle uit mekaar te hou, toe hy my met die vuis deur die gesig slaan.”
Nog ʼn hou het Chantal getref en sy het bewusteloos op die vloer neergesak. Intussen het die man en ander mans en vroue saam met hom in die restaurant glo vir James getakel, hom herhaaldelik geslaan en vir Chantal geskop. “Die McDonald’s-personeel asook die veiligheidswag het almal net gestaan en kyk. Hulle het niks gedoen om in te gryp, die polisie te ontbied of ʼn paniekknoppie te druk nie. Hulle het net daar gestaan,” het Chantal gesê.
Die groep het glo ná die aanranding uit die restaurant gehardloop. Terwyl James vir Chantal van die vloer af opgehelp het, het ʼn McDonald’s-personeellid glo dadelik nader gekom en die bloed van die vloer af begin was. Niemand het egter vir James of Chantal hulp aangebied nie.
“James het gevra wat die kassiere se naam is wat ons gehelp het, maar die personeel het geweier om haar naam bekend te maak. Ons het direk daarna ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak voordat ons hospitaal toe is vir behandeling.”
Chantal se neus is gekraak en sy het erge kneusplekke aan haar gesig en lyf opgedoen. James het hematome (bloeding) in sy gesig opgedoen, verskeie ander kneusings en ʼn kneusing agter sy kop wat die polisie later gesê het lyk asof hy met die kolf van ʼn vuurwapen geslaan is.
“Ons het reeds regsadvies ingewin en ons oorweeg ʼn siviele saak teen McDonald’s. Dit is onaanvaarbaar dat hulle nie hul klante binne hul restaurante kan beveilig nie. Boonop vermoed ons die kassiere het iets vir die aanvallers gesê wat aanleiding gegee het tot die aanranding,” het Chantal gesê.
McDonald’s Suid-Afrika het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê dit word in ʼn baie ernstige lig beskou. “Ons het begin met ʼn interne ondersoek om die feite van die saak vas te stel en sal ons volle samewerking aan die wetstoepassingsowerhede gee indien hulle dit versoek. Die veiligheid van ons klante is van die uiterste belang en hierdie saak ontvang ons volle en dringende aandag,” het Sechaba Motsieloa, direkteur van korporatiewe sake, gesê.
Maroela Media wag op kommentaar van die polisie.

