Sers. Gertrude Makhale, woordvoerder van die polisie, het gesê Kgotso Bapela (18), ʼn leerder van die Vaal High School, en sy vriend is omstreeks 07:40 in Mumfordstraat deur drie verdagtes oorval.
“Die drie verdagtes het Bapela glo van sy selfoon en skoolsak beroof, voordat hulle hom met ʼn mes gesteek het. Die vriend het dadelik hulp ontbied, maar Bapela is dood voordat nooddienswerkers en die polisie by die toneel opgedaag het,” het Makhale gesê.
Daar word vermoed dat een van die verdagtes ook ʼn leerder was aangesien hy die kenmerkende grys skoolbroek en swart skoolskoene aangehad het.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Enigiemand wat sien dat ʼn jong mens ʼn selfoon of skoolsak probeer verkoop, word gevra om die Vanderbijlpark-polisiestasie by 016 910 9046 of 071 675 7246 te bel.”