Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Donderdag uitspraak gelewer rakende die minister van justisie en korrektiewe dienste se aansoek om verlof tot appèl teen Janusz Walus se vrylating. Walus is die moordenaar van die SAKP-leier Chris Hani.
Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen het minister Michael Masutha se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys. Die minister sal nou ‘n petisie tot die appèlhof rig. Walus se regsverteenwoordiger sal intussen ook ‘n aansoek bring vir sy tydelike vrylating.
Walus, wat aanvanklik die doodstraf opgelê is vir die moord op Hani, se aansoek om parool is aanvanklik deur Masutha van die hand gewys. Walus het hierna die hof genader om op parool vrygelaat te word. Die hooggeregshof het op 10 Maart beveel dat Walus binne 14 dae op parool vrygelaat word waarna die minister aangedui het hy wil teen die uitspraak appelleer.
Hani se weduwee, Limpho, het Dinsdag toe die aansoek aangehoor is, dit duidelik gemaak dat die familie gekant is teen Walus se vrylating, aangesien hy nie berou getoon of die rede vir die moord bekend gemaak het nie.
Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die departement, het vroeër gesê hulle hoop hul aansoek is suksesvol sodat hul opposisie tot Walus se vrylating op parool in ʼn hoër hof aangehoor kan word.