Volgens die ANC Vroueliga (ANCVL), ANC Jeugliga (ANCYL) en die Mkhonto we Sizwe militêre veterane (MKVA) het hulle hul lede geraadpleeg en Woensdag tot in die vroeë oggendure vergadering gehou, nadat die provinsiale uitvoerende komitee gesê het dat hulle Zuma se verskoning aanvaar, maar dat “hy moet besin en die regte ding moet doen”.
Daddy “Bronson” Thinane, die provinsiale voorsitter van die MKVA, het gesê die ligas stem nie saam dat Zuma moet uittree nie. “Wat beteken hierdie stelling van ‘die regte ding doen’ werklik? Wat bedoel die uitvoerende komitee hiermee? Die stelling is nie vir ons duidelik nie, dit is net ʼn gelykenis,” het Thinane gesê.
“Mense moet praat en duidelik wees oor wat hulle sê. Ons almal hier en die mense wat ons verteenwoordig, ondersteun die besluit van die partye se nasionale werkskomitee dat Zuma toegelaat moet word om sy termyn uit te dien, as president van die ANC én van die republiek.”
Matome Chiloane, die provinsiale voorsitter van die ANCYL, het gesê Zuma was “dapper” om in die openbaar om verskoning te vra. “Vir ʼn persoon om tot ʼn punt te kom waar hy in die openbaar om verskoning vra, wys dat pres. Zuma diep selfondersoek gedoen het. Jy kan nie net die verskoning ignoreer nie. Dit verg ʼn ware en dapper leier om te sê hy is jammer,” het Chiloane gesê.
Die groep beweer versoeke dat Zuma moet bedank, is weens Westerse innvloed, wat die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) teiken “in die najaag van hul honger vir algehele beheer”. Suid-Afrika se opposisiepartye word ook deur “Westerse magte” beïnvloed, het hulle gesê.
“Die vuil hand van die Weste krap in ons land en gebruik die opposisie as instrument om chaos te veroorsaak. Die DA, EFF en die woordvoerder van die wit monopolie-kapitaal, Anton Rupert, is almal saam in die bed en in die arms van die Weste om ʼn regeringsverandering teweeg te bring … ons sal nooit deelneem aan sulke onderduimse dinge nie,” het Chiloane uit die gesamentlike verklaring voorgelees.
Die organisasies het gesê hulle ondersteun die konstitusionele hof se uitspraak dat Zuma ʼn gedeelte van die geld wat aan veiligheidsopgraderings by sy Nkandla-woning bestee is, moet terugbetaal, maar het godsdiensleiers wat verlede week gesê het hy moet bedank, gekap.
“Kerke het ʼn sleutelrol gespeel om ons van apartheid na ʼn demokrasie te lei. Dit is daarom skokkend om ‘hoë priesters’ te hoor sê dat hulle nie die president se verskoning aanvaar nie. Van wanneer af leer die Bybel ons om nie te vergewe nie? Skokkend genoeg, is hierdie mense dieselfde mense wat anti-apartheidsaktiviste was en die apartheidsrassiste vergewe het,” het Chiloane gesê.
“Daarom is die regte besluit volgens die ANC Gauteng se resolusie dat Zuma sy termyn moet uitdien.”
Die ANC in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal het ook al op die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak gereageer en gesê hulle ondersteun Zuma. David Mabuza, premier en voorsitter in Mpumalanga, het geskimp dat ANC-lede moontlik vir Zuma sal help om ʼn gedeelte van die Nkandla-geld terug te betaal.
Paul Mashatile, die Gauteng LUR vir menslike nedersettings, het gesê hy glo die ANC het reeds die prys van die Nkandla-sage betaal gedurende die 2014-verkiesings. “As die ANC moet ons selfondersoek doen en verreikende besluite neem wat die skade aan ons beeld sal herstel en die vertroue van ons mense sal terugwen.”
Mashatile het Dinsdag gesê die provinsiale uitvoerende komitee het die moontlikheid bespreek dat Zuma voor die ANC se integriteitskomitee gedaag moet word omdat hy die party in oneer gebring het. ANC-takke in die provinsie sal vergaderings hou om die hofuitspraak te bespreek voordat die provinsiale uitvoerende komitee volgende maand ʼn finale besluit sal neem.