Hy het die media Woensdag in Port Elizabeth toegespreek in aanloop tot die party se manifes wat oor die naweek by die Nelson Mandelabaai-stadion bekend gestel word.
Die ANC in Gauteng het Dinsdag ʼn beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om na te dink en “die regte ding te doen” om die krisis in die party op te los, nadat die provinsiale uitvoerende komitee Maandag ʼn spesiale vergadering gehou het om die konstitusionele hof se uitspraak oor die Nkandla-sage te bespreek. Die komitee het gesê hulle aanvaar Zuma se verskoning, maar glo wanbestuur rondom die Nkandla-saak het politiese skade veroorsaak en wantroue onder Suid-Afrikaners gesaai.
Kodwa het ANC-lede Woensdag ontmoedig om oor die organisasie te praat en gesê dit is nie in die beste belang van die party nie. “Dit doen skade aan die organisasie en sy beeld. Of dit nou veterane of die uitvoerende komitees is, dit versterk nie die ANC nie,” het Kodwa gesê.
“Ons hoop dat ons kamerade op die pad vorentoe sal verstaan daar is dinge wat ons moet doen om eenheid in die ANC te versterk.”
Nomvula Mokonyane, die ANC se nasionale hoof van veldtogte, het Suid-Afrikaners gevra om die interne prosesse van die ANC te respekteer en waardeer. “Oor die kwessie van die konstitusionele hof se uitspraak: die ANC het nooit gesê kom ons gaan maar net aan nie. Daar moet gehoor gegee word aan die hof se besluite en daardie verantwoordelikheid lê by die regering. Ons, as die ANC, het kwessies geïdentifiseer wat intern hanteer moet word en lesse is daaruit geleer. ʼn Nasionale uitvoerende konferensie word in Mei gehou en ons hoop ons kan die saak dan afsluit,” het Mokonyane gesê.
Kodwa het bygevoeg die ANC kom nie in Nelson Mandelabaai byeen omdat hulle bekommerd is oor mededinging in die gebied nie. “Prakties gesproke het ons nie mededingers nie. Verlede jaar het die ANC meer as 50% [van die stemme] gekry en die DA net meer as 10%, dus is daar geen ware mededinging nie,” het hy gesê.
Hy het gesê hy is vol vertroue die ANC sal Nelson Mandelabaai behou en die party beoog om die metro in ʼn “klein eiland te verander” in aanloop tot die manifes-bekendstelling Saterdag.