ʼn Omstander se dapper optrede het moontlik die lewe van ʼn 18-jarige motoris gered nadat laasgenoemde se motor tydens ʼn kettingbotsing aan die brand geslaan het.
Neil Powell, direkteur en woordvoerder van Crisis Medical, het aan Maroela Media bevestig die botsing, waarin vier voertuie betrokke was, het Maandag omstreeks 21:15 op die N2-snelweg naby Umhlanga, noord van Durban, plaasgevind.
“Een van die motors het tydens ʼn hoëspoedbotsing aan die brand geslaan. ʼn Omstander kon daarin slaag om ʼn 18-jarige man uit die brandende motor te red, voor die voertuig heeltemal deur die vlamme oorweldig is,” het Powell gesê.
Volgens Powell is die jong man ernstig beseer en twee mense het geringe beserings opgedoen. Al drie mense is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling en waarneming.
Die omstandighede rondom die botsing word ondersoek.




